

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 September 2006
Die algemene beheer- en veiligheidsmaatreëls by padverleggings tydens die huidige konstruksie op die N1-noord tolpad word op hoë vlak deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap Beperk (SANPAB) ondersoek, ná verskeie ongelukke wat die afgelope tyd voorgekom het.
Die doeltreffendheid van inligtings- en waarskuwingstekens en beheermaatreëls by die Witvlag-afdraai en ander sleutelpunte in die huidige opgraderingsprojek word deur kundiges nagegaan, tesame met die noodsaaklikheid van doeltreffende wetstoepassing. Die verkeersowerhede sal genader word om toe te sien dat motoriste die spoedbeperkings gehoorsaam.
Die twee motorongelukke binne etlike dae het voorverlede week by die Witvlagpad voorgekom. Sowat vier weke gelede is drie mense ernstig beseer in ‘n kettingbotsing wat verder noord by Mutamba plaasgevind het, toe ‘n swaarvoertuig van agter vasgery het in stilstaande sedanvoertuie by die tydelike verkeerslig wat enkelbaanverkeer by die betrokke padverlegging beheer.
Volgens voorlopige aanduidings steur ‘n beduidende persentasie motoriste hulle glad nie aan die tydelike spoedbeperkings wat by die sleutelpunte van toepassing is nie. Die staande spoedbeperking van 100km per uur oor die bergpas word ook meestal verontagsaam.
‘n Woordvoerder van SANPAB, mnr. Ettienne Terblanche, wat die projekingenieur in die huidige veiligheidsopgradering van die gedeelte van die N1 is, het gesê spoedriffels is reeds voor die enkelbaan verkeerslig aangebring ná die ongeluk by Mutamba om bestuurders, wat weens vermoeidheid of stres dalk die tydelike slagoffers van padhipnose kan wees, vroegtydig te help herinner aan en bedag te maak op die noodsaaklikheid van spoedvermindering en die naderende verkeerslig.
Mnr. Terblanche sê aandag word ook gegee aan al die ander verbandhoudende faktore, soos die sigbaarheid en leesbaarheid van die borde wat inligting verskaf oor die sluitingsdae en –tye van gedeeltes van die pad, en die duidelike behoefte aan wetstoepassing.
Oor klagtes dat plaaslike verkeer by tye onnodig deurgang verbied word na die hotelle en gastehuise op die berg, het mnr. Terblanche gesê die meeste plaaslike inwoners is van deurgangsidentifikasie voorsien. Die voorwaardes vir die deurlating van ander besoekers en gaste sal weer duidelik aan die betrokke beheerpersoneel op grondvlak deurgegee word.
Die duidelike behoefte aan strenger wetstoepassing en spoedbeheer word nou met die verkeersowerhede opgeneem.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
