

ADVERTISEMENT:

Die kant van die R522 wat weggespoel het. Die onlangse swaar reënbuie het die pad nog verder weggespoel.
News Date: 03 March 2018
Verlede week se reën was vir seker wyd verwelkom.
Ongelukkig het van die swaar reënbuie die kollig weer opnuut geplaas op die beroerde toestand van die streek se paaie.
Een van die swakste paaie tans is verseker die Pad-van-die-Dood, oftewel die R522 tussen Louis Trichardt en Vivo. Hierdie pad is reeds jarelank berug vir sy talle slaggate, oorgroeide padreserwe en rondloperdiere wat al die oorsaak was van vele noodlottige ongelukke.
Die onlangse swaar reën het niks gedoen om die situasie op die pad te verbeter nie. Veral nie waar ‘n gedeelte van die pad naby Schoemansdal reeds etlike jare gelede weggespoel het en nog nooit weer herstel is nie. Inteendeel, die reën het nou nog ‘n groter stuk van die pad weggespoel.
Die toestand van die pad is oor die afgelope paar jaar al herhaaldelik onder die owerhede se aandag gebring. Die Bobrakrivier Boerevereniging was een van die eerste instansies om te kla oor die pad en het reeds in 2013 ‘n klag by die Openbare Beskermer ingedien waarin hulp gevra is om die situasie met betrekking tot die spesifieke roete aan te spreek.
Die Zoutpansberger het hierdie week ‘n medianavraag aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (SANRAL) gerig waarin die swak toestand van die pad aan hulle uitgewys is. Die navraag is vergesel van ‘n onlangse foto van die uitgespoelde deel van die R522, en daar is vir SANRAL gevra of die pad se herstel binnekort as ‘n prioriteit beskou sal word.
SANRAL het Woensdag die navrae verwys na die Limpopo Padagentskap. Die R522 is volgens SANRAL steeds ‘n provinsiale pad, en val onder die jurisdiksie van die provinsiale padagentskap.
Die navrae is dadelik aangestuur, en teen druktyd is daar nog gewag op die antwoord van die Limpopo Padagentskap.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
