

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 March 2018
Inwoners het verlede Woensdag gekyk en geluister na die begrotingsrede van die Minister van Finansies en daarna is hulle oorval op radio en televisie met geleerdes wat probeer sin maak het en verduidelik het wat al die syfers beteken.
Min Suid-Afrikaners is egter daarvan bewus dat die Nasionale Tesourie ‘n oulike skakel op hulle webblad het waar inwoners toegang het tot Die Publiek se Gids tot die begroting. Hierdie gids is beskikbaar in vyf van die amptelike landstale, ingesluit Afrikaans, Engels, Zulu, Xhosa en Setswana.
Die gids verduidelik op ‘n maklik-verstaanbare manier hoe die begroting opgestel word, waarvoor al die geld gaan en waar al die geld vandaan gaan kom.
Vir ons lesers se doeleindes gaan daar in hierdie artikel egter net gekyk word na van die belangriker aspekte van die begroting wat soos dit die gewone man op straat raak.
Voorsiening van maatskaplike ondersteuning aan die armes word weer gemaak. Sowat 18.1 miljoen Suid-Afrikaners sal teen 2020 maatskaplike toelaes ontvang. In die 2018 begroting sal die regering maatskaplike toelaes teen ‘n hoër koers as voorheen verhoog om die armes te vergoed vir die toename in BTW, wat opgeskuif is vanaf 14% na 15% met ingang 1 April (en dit is nie ‘n grap nie). Dit beteken dat die kindersorgsubsidies met R25 per maand in 2018/19 sal toeneem, terwyl die pleegsorgtoelaag met R40 sal verhoog. Die ouderdomstoelaag sal in 2018/19 met R95 per maand toeneem.
Dit gaan jou hierdie belastingjaar ook bietjie duurder uitwerk om ‘n doppie te geniet. Moutbier, appelbier en alkoholiese vrugtedrankies styg met 15c per 340 ml blikkie, terwyl ongefortifiseerde wyn jou 23c per 750 ml bottel duurder gaan uitwerk. Gefortifiseerde wyn gaan jou 28c per 759 ml bottel duurder kos, terwyl vonkelwyn 73c per 750 ml duurder gaan wees. Vir die mense wat hou van hardehout sal sterk drank R4,80 per 750 ml duurder kos. Diegene wat daarvan hou om ‘n dampie te maak, sal op hulle beurt R1,22 per pakkie 20 sigarette duurder betaal, 39c per pakkie 25g pyptabak en ‘n volle R6,45 per 23g sigaar.
Nog iets wat feitlik almal se sak gaan raak, is die toename in die brandstofprys. Die algemene brandstofheffing sal met 22c per liter verhoog en die padongeluksfondsheffing sal met 30c verhoog. Dit verhoog die algemene brandstofheffing na R3.37 per liter petrol, diesel na R3.22 per liter en die padongeluksfondsheffing na R1.93 per liter vir beide petrol en diesel. Die verhoogde heffings tree met ingang van 4 April 2018 in werking.
Vir meer inligting oor hoe jou inkomste jou belastingskaal beïnvloed, waar die geld vandaan gaan kom en waarop die geld bestee gaan word, sien meegaande inligtingsgrafieke uit Die Publiek se Gids. Alternatiewelik, gaan laai die volledige gids af by http://www.treasury.gov.za/documents/national%20budget/2018/default.aspx.
Wanneer jy op die blad is, beweeg af tot by die blokkie wat sê “People’s Guide” en klik dan op die gids in die taal van jou keuse. Die gidse is in PDF-formaat.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
