

ADVERTISEMENT:

Die nuwe dief-spesie in Louis Trichardt. Hierdie man het Maandagaand doodluiters die potplante by Archer Paint Center uitgetrek en daarmee die pad gevat.
News Date: 04 March 2018
Met die lekker reën het daar ook blykbaar ‘n nuwe generasie van diewe hul opwagting in Louis Trichardt gemaak.
Dié soort dief slaan nie vensters stukkend of hol met jou televisie of skootrekenaar weg nie. Hy brand ook nie muti voor hy toeslaan by ‘n perseel nie. O nee, hy slenter verby met ‘n winkeltrollie!
Archer Paint Center, op die hoek van Rissik- en Presidentstraat, het Maandag die slagoffer geword van die nuwe generasie boosdoener - ‘n plantedief.
Die diefstal is op die winkel se sekuriteitskameras vasgevang. Die eienaars, Mark en Natalie Archer, het Dinsdag ondersoek ingestel nadat hulle gesien het hulle plantbakke voor die winkel is leeg.
Op die beeldmateriaal kan daar duidelik gesien word hoe ‘n man Maandagaand kort na 20:00, uitgevat in ‘n glimbaadjie, aangestap kom na die winkel. Hy trek ‘n supermark trollie agter hom aan, duidelik vol allerhande optelgoed.
Doodluiters, sonder om eers rond te kyk, begin die dief toe die plantjies op ‘n punt uittrek. Elke liewe plantjie word uitgetrek en in die trollie gelaai, waarna die dief weer die pad vat.
Die plantjies, het Mark gesê, was gelukkig nie baie werd nie, en daarom het hulle besluit om eerder nie ‘n klag by die polisie te lê nie.
Mens kan maar net hoop dat die dief mooi na die plantjies sal kyk... (Lesers kan gaan kyk na 'n videogreep van die diefstal by www.zoutpansberger.co.za)
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
