ADVERTISEMENT:

 

Verdagte in Fisser-moord se spoor van terreur

 

News  Date: 22 September 2006

 

Die verdagte wat onder meer gearresteer is vir die moord op mnr. Ben Fisser, die 22-jarige Lesley Manganye, word verbind met ‘n verdere 54 klagte teen hom.

Dié skokkende inligting is vandeesweek deur die ondersoekbeampte in die saak aan die Zoutpansberger bekend gemaak. Manganye is tans op parool uit, nadat hy op 3 November, 2003, gevonnis is tot vyf jaar gevangenisstraf vir die diefstal van ‘n voertuig in Krugerstraat. Hy is op 18 Julie, 2005, vrygelaat op parool. Sy parooltydperk strek tot 2008.

Manganye is vroeg die oggend op Vrydag, 28 Julie, by die minibus-staanplek in Burgerstraat aangekeer danksy knap speur- en opvolgwerk deur drie lede van die polisie se plaaslike Misdaadvoorkomingseenheid. Hy is afkomstig vanaf Valdezia en het gepoog om per bus terug te gaan na Elim.

Aanvanklik het die polisie versoek dat Manganye se identiteit van die publiek weerhou word, weens die sensitiewe aard van die ondersoek. Hy het op 31 Julie die eerste keer in die hof verskyn en weer op 1 September. Intussen is die ondersoek teen hom voltooi. Die klagstate teen hom, wat getuig van deeglike werk deur die ondersoekbeampte, bestaan reeds uit twee Bybel-dik dossiere.

Manganye word volgens die ondersoekbeampte positief verbind met onder meer die huisbraak, poging tot roof en poging tot moord op mev. Rita Swart op 5 April, die moord op mnr. Ben Fisser op 9 April, die huisbraak en poging tot roof by dr. Dirk Jacobs op 10 April, die gewapende roof van mnr. Leon Furstenburg op 13 April en twee klagte van poging tot moord en een van poging tot gewapende roof op die Van den Berg-egpaar op 18 April. Die misdaadvlaag in die dorp het skielik hierna afgeneem, nadat die pistool wat Manganye na bewering in die aanvalle gebruik het, ure na die skietaanval op die Van den Berg-egpaar by die taxistaanplek in Burgerstraat gevind is. Die pistool, wat einde Maart by ‘n woning in Van Warmelostraat gesteel is, is volgens die ondersoekbeampte positief met die misdade verbind.

Meeste van die 55 klagte teen Manganye hou verband met huisbraak. Drie van hierdie sake het betrekking op misdade wat gepleeg is terwyl hy verhoorafwagtend was op die voertuigdiefstalsaak in 2003 en terwyl hy uit was op borg.

Manganye sal in aanhouding bly tot sy verhoor afgehandel is. Die Staat sal na alle waarskynlikheid enige vorm van ‘n borgaansoek teenstaan. Manganye se saak sal op 20 Oktober weer voor die hof dien.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines