ADVERTISEMENT:

 

75-jarige slagoffer van jongste plaasaanval

 

News  Date: 22 September 2006

 

Alle grondeienaars noord van die Soutpansberg en in die omgewing van Legkraal word dringend gewaarsku om veiligheidsmaatreëls op te skerp.

Dié waarskuwing volg ná nog ‘n plaasaanval en die publikasie van nog ‘n reeks grondeise.

Luidens ‘n polisieverklaring is ‘n bejaarde boer van Morebeng (Soekmekaar), mnr. T. E. (Bekka) Penning, Sondag op pad kerk toe deur rowers op sy plaas Rietbult oorval en beroof.

Die polisie sê twee gewapende mans het die 75-jarige mnr. Penning Sondagoggend voorgekeer toe hy van sy plaaswoning op pad was kerk toe. Nadat hulle gedreig het om hom te skiet, het hulle hom vasgebind en sowat R950 uit sy sak gesteel voordat hulle hom teruggedwing het na die plaaswoning.

By die plaaswoning het hulle die hele huis omgekrap en deursoek en volgens die polisieverklaring drie vuurwapens en meer as R21 000 aan kontant uit die kluis geroof, voordat hulle te voet gevlug het.

Mnr. Penning is erg getraumatiseer, maar het nie ernstige besering opgedoen nie.

Luidens ‘n verklaring deur die TLU SA Noord is daar die afgelope weke altesaam vyf vuurwapens in die omgewing van Soekmekaar gesteel, onder meer by mnr. Penning se bure. Van die gesteelde wapens is vermoedelik in die rooftog op mnr. Penning gebruik.

“As die SAPD hierdie soort misdaad ernstig opneem, sal talle sinnelose moorde voorkom kan word,” sê die TLU.

Die voorsitter van die TLU SA Noord, mnr. Dries Joubert, het ‘n dringende waarskuwing gerig aan grondeienaars in die omgewing van Legkraal en noord van die Soutpansberg om verskerpte veiligheidsmaatreëls in plek te kry, aangesien plaasaanvalle en barbaarse wreedheid met alle stelligheid nou daar verwag kan word.

Mnr. Joubert sê sulke aanvalle hou ten nouste verband met grondeise en eise is nou op alle grond noord van die Soutpansberg in die Staatskoerant gepubliseer. Die publikasie van grondeise op die Legkraal-gebied word eersdaags verwag. Mnr. Joubert sê die publikasie van sulke grondeise word onmiddellik gevolg deur ‘n verhoogde veiligheidsrisiko, omdat plaasaanvalle en barbaarse wreedheid en koelbloedige moord gebruik word om grondeienaars te intimideer, sodat hulle enige aanbod sal aanvaar wat die regering deur die grondeise kommissie maak.

Mnr. Joubert sê dit het tyd geword om openlik te vra wie die meeste baat by hierdie soort optrede. Hy sê die vraag moet ook gevra word waarom sulke barbaarse optrede, sinnelose geweld en intimidasie nodig is as al die eise werklik geldig is. Die TLU het dit herhaaldelik duidelik gestel dat hy nie geldige eise sal teenstaan nie. Hy sê laakbare barbaarse kriminele behoort nie toegelaat te word om wetsgehoorsame burgers die reg te ontsê om in hul eie land te woon nie.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines