ADVERTISEMENT:

 

Beweerde kabeldief kry skok van sy lewe

 

News  Date: 22 September 2006

 

‘n Booswig wat Maandag, 18 September, na bewering elektriese kabels wou steel het met ernstige brandwonde in die hospitaal geëindig toe dinge vir hom ietwat skeef geloop het.

Die booswig het gepoog om Eskom-kabels op die plaas Boschfarm op die Witvlagpad te steel, toe hy geskok is. Die verdagte se broer het dadelik vir mnr. Jacques Smalle van die buurplaas van die voorval ingelig en die Witvlag Plaaswag is geaktiveer. ‘n Ambulans is kort daarna vir die beseerde verdagte ontbied.

Smalle het gesê sy buurman, ‘n Johannesburgse dokter wat nie op die plaas was tydens die voorval nie, word, gereeld geteiken deur koperdraaddiewe. Hy het sy dank uitgespreek teenoor die plaaswag wat, ten spyte van die booswig se beweerde misdaad, nie geskroom het om hom te help nie. ‘n Ander buurman, mnr. Theo Schlieben, het hierby aangesluit en gesê dat die mensdom vorentoe moet beweeg en dat mens selfs die mense wat vir jou skade veroorsaak, moet help as dit nodig is.

Mnr. Masindi Mapholi, die Raad se Direkteur Tegniese Dienste, is ook genader vir kommentaar.

Mapholi het aan die Zoutpansberger gesê dat die publiek verskeie kere gewaarsku is om elektrisiteit te respekteer en dat diegene wat hulle aan kabeldiefstal skuldig maak, nie simpatie vanaf die Raad sal kry wanneer hulle geskok word nie, maar eerder strafregtelike stappe in die gesig sal staar. Mapholi het bygevoeg dat, indien booswigte se familielede kennis dra van hulle misdrywe, hulle dit dadelik moet rapporteer aan die polisie of die Raad. Mapholi het weereens gewaarsku dat die diefstal van kragkabels ‘n gevaarlike speletjie is en dat dit beslis nie die laaste koperdraaddief is wat geskok sal word nie.

Die booswig was teen druktyd nog in die Louis Trichardt Gedenkhospitaal waar hy vir ernstige brandwonde behandel word.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines