ADVERTISEMENT:

 

Soutpansberg Dorpswag aanvaar grondwet en gedragskode

 

News  Date: 22 September 2006

 

Die Soutpansberg Dorpswag het verlede Woensdag tydens ‘n algemene vergadering amptelik hul eie grondwet en gedragskode aanvaar.

Tydens die vergadering het die hoofbestuur, onder leiding van voorsitter dr. Philip Venter en ondervoorsitter ds. Willem Boshoff, terugvoer gegee oor die periode sedert die dorpswag se ontstaan sowat vyf maande gelede. Alhoewel somtyds met stampe en stote, was daar groot lof vir wat die dorpswag in ‘n relatief kort tydperk bereik het. Daar is veral verwys na die omstandighede wat gelei het tot die ontstaan van die dorpswag in ‘n tydperk toe misdaad so buite beheer gespiraal het dat kinders bang was om alleen te slaap, talle ouers met gelaaide vuurwapens gaan slaap het en mense skrikkerig was om na donker op straat te wees. In die geheel gesien, het dié toestand dramaties verbeter.

Die grondwet en gedragskode wat aanvaar is, stel duidelike riglyne vir die werkswyse en optrede van dorpswaglede. Dit is geskoei rondom samewerking met die polisie, sonder wie se hulp die dorpswag nie doeltreffend kan funksioneer nie. Groot dankbaarheid is ook uitgespreek teenoor alle lede wat hul tyd vrywillig opoffer met die ry van patrollies en die bywoning van insidente om te help om die dorp oor die langtermyn veiliger te maak en te hou.

Die grondwet bevat ook ‘n bepaling dat elke lid van die dorpswag ‘n identifikasiekaart ten alle tye by hom of haar moet dra. Sonder hierdie identifikasiekaart, onderteken deur die plaaslike polisie se statsiekommissaris, supt. Naledzani Sivhula, sal lede nie namens die dorpswag kan optree nie. Supt. Sivhula is ook bedank vir haar positiewe bydrae en gesindheid van samewerking met die dorpswag. Die bepaling dra by tot die bestuur en regulering van die dorpswag se aktiwiteite.

Lede sal versoek word om drie vorms in te vul. Die eerste gee die dorpswag vrywaring om ‘n lid se huis te betree in geval van nood. Die tweede gee die dorps¬wag volmag om onder meer ‘n prokureur, ambulans of dokter te skakel in geval van nood, terwyl die derde vorm wat ingevul moet word, die dorpswag vrystel van verantwoordelikheid ten opsigte van lede wat buite die raamwerk van die wet optree. ‘n Debietorder is ook beskikbaar vir persone wat die dorpswag finansieel wil ondersteun.

Lede word versoek om die aansoekvorms vir identiteitskaarte by die dorpswag se beheerkamer, Delta Whiskey (oftewel die kantore van Dura Tow in Pretoriusstraat), te gaan afhaal en invul. Die vorms is reeds sedert Woensdag beskikbaar. By voltooiing moet die vorm, plus ‘n R30 betaling, aan die onderskeie blok- of sek-torleiers terugbesorg word. Die R30 gaan ten bate van die druk en laminering van twee identifikasiekaarte. Daarna moet lede verkieslik binne ‘n week ‘n draai maak by MS Signs vir die neem van gesigsfoto’s vir die kaarte. Hoofbestuur het lede versoek om die proses so spoedig moontlik af te handel.

Vir meer inligting, skakel dr. Venter by tel. 083 444 7672 of die dorpswag se sekretaresse, Hannetjie Stadler, by 083 589 8366.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines