ADVERTISEMENT:

 

Christene besorg oor Staat se planne om hul tugreg te ontneem

 

News  Date: 22 September 2006

 

Suid-Afrika sal binne een enkele geslag totaal onregeerbaar word, as die huidige voorgestelde wysigings op die Kinderwet deurgevoer word.

Die vernietigende gevolge van die beoogde wetswysiging, waardeur die Staat ouers hul tugreg wil ontneem, is verlede Sondag in die Geloftekerk (NG Kerk Louis Trichardt-gemeente) uitgespel, ná afloop van die gemeente se jaarlikse gesinsweek.

Tydens die week is die noodsaaklikheid beklemtoon om binne gesinsverband baie duidelike reëls en riglyne neer te lê en met liefdevolle toewyding, leiding en sorgsaamheid te handhaaf. Binne so ‘n deernisvolle verband het tug ‘n noodsaaklike positiewe rol, omdat dit die wedersydse belangrikheid van die voortgesette onderhouding van beskermende reëls beklemtoon. Kinders wat in so ‘n positiewe atmosfeer grootword, voel geborge en ontwikkel ‘n positiewe, verantwoordelike selfbeeld.

Ds. Willem Boshoff van die Louis Trichardt-gemeente het verlede Sondag tydens ‘n gesamentlike aanddiens na die omstrede wetswysiging verwys en gesê dit is ironies dat daar ná afloop van die gesinsweek, waarin onder meer die rolle van die verskillende gesinslede en die belangrikheid van liefdevolle dissipline beklemtoon is, kennis geneem word van dié drakoniese wetswysiging waardeur kinders teen ouers afgespeel word en by verre die meerderheid welwillende ouers gekriminaliseer word. Hy sê sonder die duidelike leidinggewing van ferm liefdevolle tug gedy die minagting van gesag en gesagsfigure, verwildering, ontaarding en ‘n algehele gebrek aan selfbeheersing, dissipline en wetsgehoorsaamheid.

Ds. Boshoff se ernstige teregwysing kom te midde van toenemende omstredenheid oor die beoogde wetswysiging. Hy het verwys na ‘n voorbladberig in ‘n Afrikaanse nasionale dagblad waarin berig word oor die standpuntinname van opposisiepartye teen die wysigingswetsontwerp wat ouers wil verbied om hul kinders lyfstraf te gee. Dié wetsontwerp vir die wysiging van die Kinderwet is verlede week by die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) vir bespreking ingedien. Nadat dit daar gedebatteer is, word dit na die parlement gestuur vir finale aanvaarding.

Artikel 139(2) van die beoogde wysiging word beskou as ‘n poging om die gemeenregtelike tugbevoegdheid van ouers, tradisionele leiers en howe af te skaf. Kenners wys daarop dat bestaande wetgewing voldoende is om mense vas te vat wat kinders op ‘n onbehoorlike wyse straf, mishandel of misbruik. Doeltreffende wetstoepassing is al wat skort.

Die staat se motief vir die skepping van bykomende en ingrypende wetgewing word verder bevraagteken, aangesien dit kom te midde van toenemende sprake van die amptelike aftakeling van die polisie se gespesialiseerde kinderbeskermingseenhede.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines