ADVERTISEMENT:

 

Goeie opvolgreën nou nodig vir streek

 

News  Date: 22 March 2018

 

Die goeie reën neerslae oor die streek gedurende Februarie het die Soutpansberg in ‘n ware lushof van groen omskep, maar was die reën genoeg?

“Die reën was baie welkom en broodnodig, want dit was ons eerste noemenswaardige reën in ons streek. Dit gaan ‘n verskil maak in die veld, maar vir die reën om genoeg te wees het ons in Maart en April opvolgreën nodig,” het mnr. Fanie Havinga, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie gesê.

Op ‘n vraag oor hoë Februarie se neerslae ooreenstem met die van vorige jare, het Havinga gesê die tendens neig dat die streek meer reën in die najaar kry, wat dit moeilik maak vir sommige aanplantings. “Die reën wat ons nou gekry het, gaan help met volgende jaar se makadamia oes,” het Havinga gesê.

Op plekke het dit tot 200 mm of meer gedurende Februarie binne ‘n kort tydperk gereën. Gelukkig genoeg, het Havinga gesê, was daar geen berigte gewees van skade aan oeste of infrastruktuur nie. “Almal was te dankbaar,” het Havinga gesê.

Oor die algemeen het die streek oor ‘n wyd verspreide area goeie reën gekry. Havinga het egter weer beklemtoon dat alhoewel dinge nou baie groen lyk, die situasie vinnig weer kan verander as die streek nie goeie opvolgreën kry nie. Met die winter op hande is daar veral kommer of daar genoeg weiding vir wild- en veeboere gaan wees. “Tans lyk dit nie goed nie,” het Havinga gesê.

Dat die hele streek, en so ook groot dele van Limpopo, buitengewone goeie reën neerslae vir Februarie gehad het, is duidelik te sien uit die Suid-Afrikaanse Weerdiens se amptelike reënvalsyfers vir daardie maand (slegs op plekke waar hulle weerstasies het).

Pontdrift het ‘n allemintige 330% meer as hulle gemiddelde 42 mm vir die maand gehad met ‘n totaal van 140 mm. Ook Waterpoort was geseënd met 193% meer reën as hulle gemiddelde 55 mm vir Februarie met 107 mm. Ander dele in die provinsie wat bogemiddelde reënval gehad het was Merensky (122% meer reën as hulle gemiddelde 91mm vir Februarie met 111 mm), Polokwane (243% meer reën as hulle gemiddelde 70 mm vir Februarie met 171 mm) en Bela-Bela (115% meer reën as hulle gemiddelde 82 mm vir Februarie met 94 mm).

Nader aan die huis het goeie neerslae vir Februarie ook plaasgevind by Alldays (95 mm), Mara (144 mm) en Venetia Myn (136 mm).

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens se langtermyn voorspelling vir die periode Februarie tot Junie 2018, sal die bogemiddelde reënval oor die noord-oostelike dele van die land voortduur tot in die laat somer en vroeë herfs. Hulle het ook gewaarsku dat die bogemiddelde reënval gelokaliseerde vloede kan veroorsaak.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines