ADVERTISEMENT:

 

Wyle Renette Nel (73) saam met die liefde van haar lewe, Giel. Foto verskaf.

Bekende sportvrou skielik oorlede

 

News  Date: 23 March 2018

 

Louis Trichardt is verlede week opnuut in rou gedompel met die nuus van die skielike dood van mev. Renette Nel (73).

Renette was wyd en syd bemind as die “gimnastiektannie”.  Sy het nog tot en met twee dae voor haar afsterwe op 14 Maart uitgehelp met die afrigting by die Louis Trichardt Gimnastiekklub. Sy is in die Wilgers Hospitaal in Pretoria oorlede, nadat daar komplikasies gekom het ná sy ‘n angiogram ondergaan het.

Renette was vir sovele jare deel van die Louis Trichardt-gemeenskap en altyd ‘n bekende gesig by skole se atletiekbyeenkomste dat mens maklik sou kon dink dat sy ook sommer hier gebore en getoë is. Sy is egter afkomstig van Natal, waar sy in die dorpie Vryheid gebore is op 13 September 1944 as 'n nooi Malherbe. 

Renette het haar laerskoolloopbaan in Eshowe Natal en toe later in Bellville in die Kaap voltooi. Hierna het sy haar hoërskoolloopbaan begin by die Hoër Volkskool in Graaff-Reinet, waar sy gematrikuleer het as ‘n DUX-leerling.

Ná skool het Renette besluit om haar as onderwyseres te kwalifiseer, wat sy wel gedoen het aan die destydse Bloemfonteinse Onderwyskollege. Hierna het sy in die Vrystaat gebly en begin skoolhou in die Vrystaat.

In 1964 trou Renette met die liefde van haar lewe, Giel Nel. Uit hulle huwelik is vier kinders, Ferreira, Esther, Elzabé en Tielman, gebore.

Buiten vir haar afrigtingsvermoë was Renette ‘n besonder begaafde onderwyseres. Met die verloop van tyd het sy onderrig gegee by skole en onderwyskolleges in Pietersburg, Phalaborwa en Louis Trichardt. Sy het ook al gewerk en uitgehelp in die administrasiekantore van beide Laerskool Soutpansberg en Louis Trichardt.

In die tagtigerjare het Renette gekwalifiseer as gimnastiekafrigter en -beoordelaar vir meisies. Sy en Giel het toe in Phalaborwa begin om gimnastiekklasse aan te bied. Die egpaar het saam in 1982 die plaaslike gimnastiekklub begin op Louis Trichardt.

Gedurende die volgende klompie jare het Renette haar passie vir sport uitgeleef. Nie net is sy in 1985 aangewys as Louis Trichardt se eie Sportvrou van die Jaar nie, maar het ook gekwalifiseer as fiksheidsinstruktrise vir vroue. Renette het regdeur die sewentig-, tagtig-, en negentigjare vir vrouens fiksheidsklasse aangebied.

In 1994 het sy op 50-jarige ouderdom aan haar eerste nasionale gimnastiekkompetisie deelgeneem en ‘n algehele derde plek behaal. Haar passie vir gimnastiek het haar ook gedryf om haarself verder te bekwaam deur verskeie kursusse in Europa te voltooi en sy was deel van die Suid-Afrikaanse span by vier wêreldgimnastradas. Die eerste was in 1982 in Switserland, gevolg deur een in Duitsland in 1995, daarna Swede in 1999 en Oostenryk in 2007.

Giel sê dat, ten spyte van Renette se liggaamlike terugslae (toe haar been geamputeer moes word), sy steeds aktief in die gemeenskap betrokke was en ‘n voorbeeld van blymoedigheid, dankbaarheid en deursettingsvermoë vir beide haar familie en vriende.

Wyle Renette is Woensdag vanuit die NG Kerk-Moedergemeente begrawe. Haar familie het die Louis Trichardt-gemeenskap bedank vir hul onvoorwaardelike liefde, ongelooflike ondersteuning en omgee in hul tyd van hartseer. “Julle was deel van Renette se lewe. Dit word opreg waardeer,” het die familie gesê.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines