

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 March 2018
‘n Bende rowers het Sondag amok gemaak in Louis Trichardt se middedorp deur twee winkels binne ‘n kort tydperk te beroof.
Die eerste onderneming waarop die rowers toegeslaan het, was dié van mnr. en mev. Johan en Liana van Rooyen. Hulle is die eienaars van Perfect Water in Songozwistraat.
Volgens Liana het die scenario homself ongeveer 11:00 afgespeel. Twee ongemaskerde mans het die winkel binnegekom en hulle voorgedoen as klante. Hulle het die vroue personeellede aan diens uitgevra oor van die produkte en die pryse daarvan.
Dit was toe twee van die personeellede agter in die winkel se stoorruimte besig was om voorraad aan te dra, dat hulle gehoor het hoe hulle kollega ‘n benoude gil gee. Een van die rowers het ‘n vuurwapen uitgepluk en op haar gerig.
Die rowers het die vrouens kort daarna in die badkamer toegesluit, maar nie alvorens hulle die vrouens se selfone gevat het nie. Hulle het ook gedreig om die drie vroue dood te skiet. Gelukkig, sê Liana, het die rowers nie opgemerk dat een van die vrouens haar selfoon in haar agterste broeksak gehad het nie.
Die rowers het die winkel se sleutels by die vrouens afgeneem en hulle beveel om stil te bly waar hulle in die badkamer toegesluit was. Intussen het die rowers die winkel geplunder en gevat wat hulle wil. Volgens Liana het die rowers weggekom met die dag se winste uit die kasregister, gereedskap in die stoor en die vrouens se selfone.
Intussen het Liana ‘n WhatsApp-boodskap ontvang van die benoude vrouens. Sy en Johan was in daardie stadium nie in Louis Trichardt nie en moes vanaf Pretoria die polisie en dorpswag skakel om ondersoek te gaan instel.
Teen die tyd wat hulp egter by die winkel opgedaag het, was die rowers reeds vort. Die badkamerdeur moes afgeskop word om die vrouens te kon bevry, want die rowers het die winkelsleutels saam met hulle gevat. Liana het Maandag gesê dat hulle hoopvol is dat die polisie die verdagtes sal aankeer.
Sowat ‘n uur na die roof by Perfect Water het Sport Scene in Songozwistraat ook deurgeloop. Volgens plaaslike polisiewoordvoerder konst. Irene Radzilane, is daar sterk bewyse dat dit dieselfde bende rowers was wat Perfect Water beroof het.
Radzilane sê die enigste verskil in die twee rooftogte was dat die rowers by Sport Scene die winkel op sy kop gekeer het. Hier het die rowers heelwat meer kontant gekry om te steel, en hulself ook mildelik gehelp aan van die klere en skoene in die winkel. Ook hier was die personeel eers vooraf in die badkamer geboender, toegesluit en gedreig deur die rowers.
Teen Woensdag was daar nog geen arrestasies gemaak in verband met die twee voorvalle nie.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
