

ADVERTISEMENT:

Van die eregaste wat die borgefunksie bygewoon het by Blouberg was, van links na regs, prof. Eric Holm, Johan Barnard (VVB voorsitter), Ruan Stander (KuneMoya), David Pretorius (aangewys as die grootste vriend van die VVB) en Johan van Wyk (reservaatbestuurder van Blouberg).
News Date: 23 March 2018
Die baie bekende entomoloog prof. Erik Holm het die afgelope naweek besoek gebring aan die Blouberg Natuurreservaat naby Vivo.
Hy het gaste van die nie-winsgewende organisasie, Vriende van Blouberg (VVB), Saterdag toegespreek tydens ‘n borgefunksie wat op die reservaat aangebied is. Hierdie funksie het ten doel gehad om die ondersteuners van die VVB te bedank vir hulle bydrae tot die bewaringswerk wat gedoen word op die reservaat.
Die Blouberg Natuurreservaat het geen bekendstelling nodig as dit kom by hul aasvoël-rehabilitasieprojek nie. Die reservaat staan tans aan die voorpunt van die bewaring van aasvoëls, meer spesifiek die bedreigde kransaasvoël wat teen die hange van Blouberg nesmaak.
Die VVB is in 2013 in samewerking met die BirdLife Soutpansberg Voëlkykersklub gestig met die uitsluitlike doel om die natuurreservaat by te staan met geld en hulpbronne. Dit het aan die begin broekskeur gegaan met die VVB wat net R100 gehad het. Hierdie bedrag het intussen gegroei danksy die hulp en ondersteuning wat die VVB gewerf het, grootliks vanuit die Louis Trichardt- en Vivo-gemeenskap.
Holm het na die borge verwys as die kampioene van Blouberg. “Hier op Blouberg het jy nog ‘n plek soos die paradys met amper geen besoedeling nie én dit is goud werd. Dit is van die raarste goed op aarde en julle wat die champions daarvan is, die toekoms gaan vir julle baie dankie sê,” het Holm in sy toespraak gesê.
Holm het bygevoeg dat daar ‘n hele leerskool van plante en diere in die Blouberg voorkom waarvan daar gerus afgekyk kan word om meer te leer oor volhoubaarheid en oorlewing. “Ons onderskat wat die natuur kan doen,” het prof. Holm gesê. Hy het spesifiek verwys na termiete wat geleer het om as’t ware te spesialiseer wat betref soldate-, verkenner- en werkermiere. “Ons kan heelwat leer van goed wat amper nie ‘n brein het nie, want hulle is al honderde jare aan’t werk aan die plan en die wat nie volhoubaar is nie het uitgesterf,” het Holm gesê.
Die kampioene, of borge, wat die VVB spesifiek bedank het was Fig Tree Saagmeule, Jana Smith, Vivo NTK, die Zoutpansberger, Gerd Botha, Eric Aspeling, Koos Steyn, Vonitel Radio, Dawn Smit van Pest Control Specialists, Isis Décor, Kune Moya Ruskamp op Blouberg, Rienk van der Leiy, Promo Place, Leach Printers, Trali Door, Rembrandt Staal, David Pretorius, Philip Fick, George Schempers, Da Silva Apteek, Limpopo Sitrus, Lauri Bannatyne van Talisman Louis Trichardt, Erika Vorster, Herman Hoepner, Pretoria Karavane, John Deere in Polokwane, Sarel Alberts, Bridge Motors, Baltimore skool en die damesgroep van Ellisras.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
