

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 March 2018
Die kwessie van belasting op landbougrond bly ‘n emosionele debat met baie boere wat voel dit is ‘n onbillike heffing wat verdere druk op ‘n sukkelende bedryf plaas. Baie grondeienaars weier ook om te betaal omdat hulle nie rekeninge ontvang nie, of omdat hulle meen hulle ontvang geen dienste vir die belasting wat hulle betaal nie.
Die realiteit is dat boere wetlik verplig is om eiendomsbelasting te betaal. Die TLU SA Noord het reeds ‘n jaar gelede (Maart 2017) ‘n verklaring in dié verband uitgereik. “Soos dorpsbewoners aan die plaaslike munisipaliteit grond- of eiendomsbelasting moet betaal, moet eienaars van landbougrond ook eiendomsbelasting, volgens die waardasie van die eiendom deur die plaaslike owerheid, betaal. Dit het niks met basiese dienste wat plaaslike owerhede lewer te doen nie, dit is nie ’n heffing of ’n rekening vir dienste gelewer nie, dit is ’n belasting,” het die TLU SA Noord in hul persverklaring toe gesê.
Wat betref die argument dat boere weier om te betaal omdat hulle nie rekeninge ontvang nie, het die TLU SA Noord gesê grondeienaars bly wetlik verantwoordelik vir die betaling van eiendomsbelasting. “Die onus berus op die grondeienaar om sy rekening by die owerheid te bekom en dit betyds te betaal. Die plaaslike owerhede is dan ook by magte om die agterstallige belasting in te vorder op enige wetlike manier. Hulle kan dagvaardings teen jou uitreik en die normale skuldinvorderingsprosesse gebruik,” het die TLU SA Noord gesê.
Die weiering om erfbelasting te betaal kan boere baie duur te staan kom, veral wat betref die Makhado Munisipaliteit se nuwe algemene waardasierol wat tans vir die publiek beskikbaar is vir inspeksie. Een van die plaaslike boere wat die moeite gedoen het om hierdie nuwe waardasierol onder oë te kry was me. Erika Helm.
“Ek is 'n boer in die omgewing reeds vir die afgelope 19 jaar, hoewel ons eiendom reeds generasies in die familie behoue gebly het. Verlede jaar het ek soos 'n getroue inwoner dit behaag, 'n afspraak gemaak by die munisipale kantore vir hulle aanvullende waardasierol se inspeksie binne die kantoorure soos geadverteer om net myself te vind voor dooiemansdeur met geen hulp van enige werknemer binne die munisipaliteit nie. Die waardasierol was ook geensins beskikbaar op die webtuiste soos beloof is nie,” skryf Helm in ‘n ope brief aan die Zoutpansberger.
Helm skryf dat sy hierdie jaar met geen uitsonderlike verwagting weer die munisipaliteit se webtuiste besoek het om ‘n afskrif van die waardasierol te kry. “Jou wragtie waar - daar is die waardasierol. Opgewonde om te sien die munisipaliteit is werklikwaar 'n ou staatmaker hierdie jaar, soek ek naarstiglik na die landbou gedeelte wat ek wel vind vanaf bl. 550. Ek soek deur die talle landbou eiendom waarmee ek vertroud is en ek moet met skok terugsit en twee keer kyk om seker te maak dit is die waarheid. Uit die 100 landbou eiendomme wat ek deursoek het, is gevind daar is 'n algemene verhoging in waardasie sedert die 2015 aanvullende waardasierol van meer as 200%!” skryf Helm.
Volgens Helm was daar selfs een eiendom wat 'n 3083% verhoging toon. “Ek gee 'n blik na my bure se eiendom wat onder Blouberg Munisipaliteit val waarvan ek bewus is van die waardasie, en ek merk daar is 'n verskil van minstens 75% in die prys per hektaar,” het Helm geskryf.
Helm sê die waardasies maak nie vir haar sin nie. Sy het gesê dat die Wet op Munisipale Erfbelasting (Wet 6 van 2004) in paragraaf 31 spesifiseer dat die waardasie die markwaarde van eiendomme moet reflekteer in ooreenstemming met die mark tendens soos op die datum van die waardasie. In paragraaf 46 is 'n verdere uiteensetting dat die bedrag van die eiendom moet ooreenkomstig wees die waarde indien die eiendom verkoop word op 'n ope mark met 'n vrywillige verkoper en vrywillige koper. “Vandag is daar geen belangstelling in enige landbougrond nie want ons het dit mos gesteel en indien dit dalk nie waar is nie, dan gaan ons van die eiendom onteien word sonder vergoeding. Wie by sy volle bewussyn sal dan nou 'n eiendom koop om dit sommer weer te verloor sonder vergoeding? Dit is mos die slegste belegging wat jy ooit in jou lewe kan doen! Eiendomsreg, wat die basis van belegging en ekonomiese groei moet wees, is in gedrang en die behoefte om eiendom te koop word deur talle beleggers op die ys gehou,” skryf Helm in haar brief. Sy meen die 2018/23 waardasierol se waardasies op landbougrond moes dus afwaarts aangepas word, aangesien grondwaardes drasties verlaag het. “In teenstelling daarmee moet ons waarneem dat 'n uiters onrealistiese verhoging bekend gemaak word,” het Helm gesê.
Die Zoutpansberger het ‘n steekproef gedoen om te bepaal in hoe ‘n mate landbougrond se waarde sedert die 2014/18 algemene waardasierol geëskaleer het? Daar is spesifiek na een boer se waardasies gekyk wat altesaam 12 stuks landbougrond in privaat en familietrust besit het.
Volgens die 2014/18 waardasierol is die boer se waardasie op die sowat 8 444 ha gesamentlike grond beraam op net onder die R38 miljoen. Volgens die 2018/23 waardasie is dieselfde grond nou net onder die R71 miljoen werd met ‘n algemene verhoging in gesamentlike grondwaarde op die plase van 108%. “Sjoe, teen daardie waardasie kan ek nou maar aftree … Ek is selfs bereid om al my grond teen daardie prys aan die Staat te verkoop, met afslag!” het die boer opgemerk.
Die duiwel is egter in die detail. Tans betaal boere 0,20 sent in die Rand eiendomsbelasting op landbougrond met gaan rabatte nie. Dit wil sê dat die bogenoemde boer volgens die 2014/18 waardasierol R633,83 per maand op sy plaas ter waarde van R3 803 000 betaal het. Volgens die nuwe waardasie van R8 050 000 op dieselfde plaas, sal hy nou R1 341,67 per maand moet betaal. Dit is meer as dubbel wat hy tans betaal en hy gaan meer as dubbel die belasting voortaan betaal op 7 van sy 12 plase.
Dit is belangrik om te onthou dat boere in ‘n stadium eenvoudig eiendomsbelasting sal moet betaal, dus is dit belangrik dat hulle nou enige besware ten opsigte van die 2018/23 algemene waardasierol moet uitklaar. In hul verklaring verlede jaar het TLU SA Noord boere daarop gewys dat belastingskuld nie na drie jaar verjaar soos ander skuld nie, maar eers na 30 jaar. “Wanneer ‘n eienaar van landbougrond daardie grond, op watter wyse ook al, wil vervreem, hetsy dit te wil verkoop of te laat vererf, moet die agterstallige belasting eers aan die plaaslike owerheid betaal word, met rente op agterstallige skuld, voor ’n uitklaringsertifikaat uitgereik sal word ten einde die transaksie af te sluit. Oordrag kan nie plaasvind sonder hierdie uitklaringsertifikaat nie,” het die TLU SA Noord gewaarsku.
Die 2018/23 algemene waardasierol is tans beskikbaar vir openbare inspeksie by kamer CO27 in die Burgersentrum in Kroghstraat (Louis Trichardt) weeksdae tussen 08:00 en 13:00 en vanaf 14:00 tot 16:00. Die algemene waardasierol kan ook inspekteer word by die streeksadministrateur se munisipale kantoor in Vuwani, Waterval en Dzanani, of kan ook besigtig word op www.makhado.gov.za tot en met 4 Mei 2018 wanneer die tydperk vir besware sluit.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
