

ADVERTISEMENT:

Borde in die nuwe uitbreiding wat die afgelope maand platgery is. Foto verskaf.
News Date: 29 March 2018
Inwoners wat vertroud is met Louis Trichardt se paaie sal al weet dat veral stopkruisings uiters versigtig benader moet word. Hulle weet ook al by watter kruisings daar wel gestop moet word al is daar nie stoptekens nie.
Deesdae wil dit voorkom of daar egter sekere inwoners in die dorp is wat hulle frustrasies op die dorp se padtekens uithaal en dit moedswillig omry.
Dié probleem is voorverlede naweek opgemerk in Rissikstraat waar verskeie stoptekens platgelê het. “Ek het 5:30 Maandagoggend opgemerk. Dis nogal baie weird, want die tekens was gebuig ook ... ek wil net vir daai persoon sê: 'Hey, skrik wakker! Daai teken het niks aan jou gedoen nie. Hy red jou lewe, en boonop is dit beskadiging van eiendom'”, het Elsie Brandt op die koerant se Facebook-blad geskryf.
Sy het gereageer op ‘n nuusflits van die koerant wat by lesers wou uitvind waar daar nog van die kriminele optrede gewaar is, want die persoon(e) wat dié tekens beskadig tree wel krimineel op deurdat hy iemand se dood kan veroorsaak en munisipale eiendom beskadig. Persone wat hulle skuldig maak aan hierdie opsetlike saakbeskadiging kan tronkstraf van tot drie jaar opgelê word. As daar ‘n ongeluk plaasvind as gevolg van die verwydering van sulke padtekens, kan die persoon wat die tekens verwyder het, ook siviel vervolg word. ‘n Hof kan ook beveel dat enige skade wat enigiemand ly as gevolg van die verwydering van sulke padtekens, van die skuldige(s) verhaal kan word.
Inwoners is egter huiwerig om boosdoeners te gaan verklik. Die koerant het ná sy Facebook-inskrywing twee oproepe gekry van lesers wat al persoonlik gesien het waar en deur wie stoptekens omgery word. Daar kan nie oor enige van die gevalle rapporteer word nie, want in nie een van die gevalle is daar ‘n klag by die Makhado Munisipaliteit of die polisie aanhangig gemaak nie.
Uit ‘n finansiële oogpunt kos dit die munisipaliteit baie geld om beskadigde en gesteelde infrastruktuur te vervang. Gevalle van saakbeskadiging kan aangemeld word by die munisipaliteit deur hul na-ure oproepsentrum te skakel by 015 516 2990/1/2/3/4. Die Makhado Polisiestasie se aanklagtekantoor kan ook help en kan geskakel word by tel. 015 519 4300.
Intussen is meeste van die borde weer opgetel en staangemaak. Die Makhado Munisipaliteit verdien ook ‘n pluimpie vir die res van Rissikstraat se stoptekens wat hulle in die afgelope weke vervang het met houtpale.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
