ADVERTISEMENT:

 

Dorp se krane loop leeg

 

News  Date: 29 September 2006

 

Die heersende watertekort in Makhado (Louis Trichardt) het sedert Sondag weer krisisomvang bereik en stuur af op ‘n onhanteerbare rampsituasie.

‘n Munisipale woordvoerder het vandeesweek by navraag bevestig die ernstige watertekort in die dorp is ‘n permanente gegewe en kan bloot met behulp van noodmaatreëls bestuur word. Die jongste krisis is weer deur kabeldiefstal veroorsaak. Dit word vererger deur mense wat hulle nie aan die amptelike waterbeperkings steur nie. ‘n Algehele verbod op die gebruik van munisipale water vir tuine is reeds sedert verlede jaar ononderbroke van toepassing.

Intussen is al die dorp se reservoirs leeg en die hele dorp is sedert die begin van die week onderhewig aan ‘n algehele onderbreking in watertoevoer wat onbepaald gaan voortduur.

Geen water is beskikbaar selfs vir noodverskaffing deur tenkwaens nie. Daar is geen aanduiding hoe lank die situasie gaan voortduur nie. Pogings om water in die reservoirs terug te pomp, kan net slaag indien alle inwoners ten volle gehoor gee aan die voortgesette totale verbod op die gebruik van water vir tuine. Sonder verbruik neem dit sowat drie volle dae om al die reservoirs vol te pomp. Die effense voorsprong wat met pompwerk deur die nag behaal word, word vroeg voormiddae reeds weer leeggetap as inwoners nie hul waterverbruik tot die allernoodsaaklikste minimum noodgebruik beperk nie. Onbelemmerde pompaksies deur die nag kan die reservoirs bloot tot by die 15% merk kry. Dit is te min om in die normale voormiddag verbruik van die dorp te voorsien.

Die woordvoerder het vandeesweek by navraag bevestig dat kabeldiefstal 10 van die munisipale boorgate sedert verlede Sondag buite werking gestel het. Vir bykans 20 ure op Maandag was net vier boorgate beskikbaar, terwyl herstelwerk by die ander boorgate aan die gang was. Die herstelwerk is voltooi, maar die krisis wat deur die agterstand veroorsaak is, duur voort.

“As al die boorgate voltyds vir 24 uur in bedryf is en die toevoer uit Albasinidam is normaal, dan het ons net-net genoeg water vir noodsaaklike huishoudelike gebruik. As water vir enige ander doeleindes, soos vir tuine en karwas gebruik word, of as daar die geringste onderbreking in die toevoer vanaf enige van ons bronne is, veroorsaak dit ‘n agterstand wat toenemend aanloop tot ‘n krisis wat ons net nie weer kan inhaal nie. Die watertekort is ‘n permanente gegewe en gaan noodwendig ondraaglik word, tensy mense gehoor gee aan die totale verbod op die gebruik van water vir enige ander doel as bloot die noodsaaklikste huishoudelike gebruik,” is daar deur die woordvoerder gesê.

Dié ontstellende situasie sal net kan verander wanneer bykomende water, na verwagting in 2008, vanuit die nuwe Nandonidam beskikbaar mag word. Intussen sal die situasie net houdbaar bestuur kan word as almal saamwerk, het die woordvoerder beklemtoon.

Die kabeldiefstal het die afgelope naweek plaasgevind by die boorgate wat nog nie van die nuutste installasies voorsien was nie. Die nuwe installasie plaas die kabels in ‘n bykans peutervrye posisie en het ‘n ingeboude alarmstelsel.

Ontstelde inwoners het hul ernstige misnoeë uitgespreek oor die lomp, onprofessionele en onbedagsame wyse waarop die Makhado Munisipaliteit die krisis hanteer.

Geen amptelike verklaring is oor die aangeleentheid uitgereik nie en geen sigbare pogings is aangewend om inwoners tydig van die nuwe krisis in te lig nie. Pogings van inwoners om telefonies by die munisipale kantore inligting te bekom, was tydrowend, frustrerend en tevergeefs. Geen woordvoerders kon by die munisipale kantore gekontak word by wie die onderbrekings aangemeld kon word of by wie inligting oor die aard, omvang en verwagte duur van die onderbreking verkry kon word nie.

‘n Verslaggewer wat probeer het om ‘n onderbreking by die munisipaliteit aan te meld is vir ‘n volle 30 minute besig gehou met oproepe wat van bakboord na stuurboord deurgeskakel is na interne nommers wat net aanhoudend lui maar nie geantwoord word nie. Die munisipale bestuurder was nie beskikbaar nie vir kommentaar nie.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines