

ADVERTISEMENT:

News Date: 29 September 2006
Dit gaan nie goed met die man wat op 18 September na bewering probeer het om koperkabel te steel vanaf ‘n Eskom-netwerk op die plaas Boschfarm op die Witvlagpad nie.
Tydens die beweerde koperdraaddiefstal is die man geskok. Hy is na mediese behandeling op Makhado (Louis Trichardt) oorgeplaas na Polokwane.
Volgens nuwe inligting het die man sy sig verloor en is hy verlam aan die linkerkant van sy lyf. Sy probleme eindig egter nie hier, aangesien die polisie wag vir sy ontslag uit die hospitaal sodat hulle hom kan aankla. Teen druktyd was sy toestand egter steeds as ernstig bestempel.
Die man se lewe is na sy skok-ervaring weliswaar deur lede van die Witvlag Plaaswag gered. ‘n Boer van ‘n buurplaas, by wie die verdagte se broer werk, het hulle van die voorval ingelig, waarna ‘n ambulans ontbied is. Die voorval het weer die klem geplaas om die gevaar daaraan verbonde om met lewendige kragkabels te peuter. Verlede week het mnr. Masindi Mapholi van die munisipaliteit se Tegniese Dienste-afdeling hom heftig uitgespreek teenoor kabeldiewe en die probleme wat hulle veroorsaak. Na wat verneem word is 10 van die Raad se munisipale boorgate weer die afgelope naweek buite aksie gestel vanweë koperdraaddiefstal. Dit te midde van ‘n groeiende waternood in die dorp. Mnr. Mapholi het dit egter duidelik gestel dat mense wat hul skuldig maak aan hierdie oortredings, geen simpatie moet verwag nie.

ADVERTISEMENT:
