ADVERTISEMENT:

 

Die twee gelukkige pryswenners wat deelgeneem het aan die Zoutpansberger se onlangse lesersopname. As eersteprys wenner ontvang mnr. Coert Oberholzer (regs) ‘n nuwe Nokia 1100 selfoon met ‘n beginnerspak, terwyl mej. Reney van Wyk (links) ‘n Hallmark-polshorlosie wen as tweede prys. In die middel staan Andries van Zyl, nuusredakteur van die Zoutpansberger.

<i>Zoutpansberger</i>-lesers voel nuus is belangrik

 

News  Date: 29 September 2006

 

Net oor die 80% van die Zoutpansberger se lesers is steeds Afrikaanssprekend en die meeste hiervan is vroue. Hierdie statistieke en heelwat ander interessanthede het navore gekom in die lesersopname wat die Zoutpansberger onlangs gehou het om hul lesersmark beter te verstaan en te bedien.

Die opname is onderneem in samewerking met Capro, ‘n nasionale bemarkingshuis, en Media Marketing Services (MMS), nasionale deskundiges op die gebied van marknavorsing. In totaal het 119 lesers van die Zoutpansberger die lesersopname voltooi en ingestuur. Die ontleding word gemaak op grond van ‘n minimum persentasie ten opsigte van terugvoer en resultate word gebaseer slegs op die inhoud van dit wat terug ontvang is. Die opnameperiode het gestrek van 28 Julie tot 11 Augustus vanjaar. Hier volg slegs ‘n paar resultate van die lesersopname:

Afrikaans oorheers steeds

Die opname het getoon dat 80.5% van lesers se huistaal Afrikaans is. Engelse lesers wat reageer het, was 13.6%, terwyl 4.2% Vendasprekend is en 1.7% Tsongasprekend.

Wat etniese groepering betref, toon die opname dat 89.9% van lesers wit is, 6.7% swart en 3.4% bruin. Die grootste groep lesers van die Zoutpansberger is tussen die ouderdom van 35 en 49 (28.8%) met lesers tussen 50 en 64 ‘n kortkop agter met 27.1%. ‘n Totaal van 20.3% van lesers is ouer as 65 en 14.4% is tussen die ouderdom van 25 en 34. Jongmense tussen 16 en 24 se persentasie was 9.3%.

Mans vs vroue

Om terug te kom na ons manlike en vroulike lesers, toon die opname dat vroue 63.1% van lesersmark uitmaak en mans slegs 36.9%. In totaal is 75.3% van lesers getroud, terwyl lesers wat enkel is of ‘n weduwee of wewenaar is, beide ‘n persentasie punt van 10.1% deel. Geskeide lesers was 4.5%.

Wat lesersvertroue in die Zoutpansberger betref, het 55.9% gesê hulle het ‘n groot mate van vertroue in die koerantartikels. Die wat gesê het hulle het volle vertroue in die artikels was 38.1%, terwyl 5.9% gemeen het hulle het bietjie vertroue in die artikels. In dieselfde asem het 51.7% lesers gesê hulle het ‘n groot mate van vertroue in die Zoutpansberger se advertensies, terwyl 41.5% gesê het hulle het volle vertroue in die advertensies. Net 6.8% was van mening hulle het bietjie vertroue in die advertensies.

Die kompetisie

Die opname het ook gewys watter ander koerante gelees word deur inwoners buiten die Zoutpansberger. Hier was Beeld die wenner met 56.8%, Rapport die naaswenner met 41.1% en Daily Sun met 14.7%, Limpopo Mirror met 8.4%, Sunday Times met 7.4%, Citizen met 6.3% en die Sowetan en die Son beide met 4.2%.

Hoe belangrik is die Zoutpansberger?

Op ‘n vraag oor hoe belangrik die Zoutpansberger vir lesers is, het 42.9% gesê dit is noodsaaklik, 41.2% was van mening dit is belangrik is, terwyl 15.1% gesê het dit is redelik belangrik. Slegs 0.8% het gevoel die koerant is nie belangrik vir hulle nie.

In totaal het 64.7% lesers gesê hul kry nuttige idees uit die koerant, terwyl 47.4% advies gevolg het wat deur die koerant gegee is. Dieselfde persentasiepunt lesers het iets gaan koop wat hulle in die koerant gesien het. Die persentasie persone wat iets vir die eerste keer probeer het nadat hulle die Zoutpansberger gelees het, was 13.8%

‘n Goeie 83.6% lesers stem heeltemal saam dat die Zoutpansberger ‘n goeie bron van inligting is, terwyl 15.5% gedeeltelik hiermee saamgestem het. Lesers wat gedeeltelik hiermee verskil het, was 0.9%. Nog ‘n veer in die hoed van die Zoutpansberger is dat 87.1% lesers heeltemal daarmee saamstem dat hul daarna uitsien om die koerant te lees. Die wat gedeeltelik hiermee saamgestem het, was 12.1%, terwyl 0.9% gedeeltelik verskil het.

Lesers wat heeltemal daarmee saamgestem het dat hulle verwag om heelwat interessanthede in die Zoutpansberger te vind, was 62.1%. ‘n Persentasiepunt van 32.8% het gedeeltelik hiermee saamgestem, terwyl 5.2% gesê het hulle verskil gedeeltelik hiervan.

Wat die koerant as noodsaaklike leesstof betref, het 54% heeltemal hiermee saamgestem, 37.2% het gedeeltelik saamgestem, terwyl 8% en 0.9% onderskeidelik gedeeltelik verskil en heeltemal verskil het.

‘n Totaal van 67% van lesers is van mening hulle kan heeltemal glo wat hulle in die Zoutpansberger lees. Diegene wat gedeeltelik met die stelling saamgestem het, was 28.6%, terwyl 3.6% en 0.9% onderskeidelik gedeeltelik of heeltemal hiermee verskil het.

Die persentasiepunt van lesers wat die Zoutpansberger van voor tot agter lees was 60.2%, terwyl 37.3% sommige bladsye in detail lees en net deur ander blaai. Diegene wat net vinnig deur die hele koerant kyk, was 1.7%, terwyl slegs 0.8% net na ‘n paar bladsye kyk.

‘n Paar ander statistieke wat die opname onder meer beskikbaar gemaak het, was of die Zoutpansberger goeie waarde vir geld is. ‘n Totaal van 78.8% het heeltemal met die stelling saamgestem, terwyl 15.9% gedeeltelik hiermee saamgestem het. Die persentasiepunt van die wat gedeeltelik hiermee verskil het, was 3.5%, terwyl 1.8% heeltemal verskil het.

Pryswenners

Om lesers aan te spoor om die lesersopname in te vul, is twee pryse op die spel geplaas om te dien as motivering. Die gelukkige wenner van die Nokia 1100 selfoon met ‘n beginnerspak as eerste prys was mnr. Coert Oberholzer van Joubertstraat. Die wenner van die tweede prys, ‘n Hallmark-polshorlosie, was mej. Reney van Wyk van Future Finance in Kroghstraat. Die trekking van die wenners se name is deur Capro en MMS behartig. Die Zoutpansberger wens die wenners geluk met hul pryse en bedank almal wat aan die lesersopname deelgeneem het.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines