

ADVERTISEMENT:

News Date: 29 September 2006
‘n Bedrogspul het mnr. Fanie Burger, ‘n besigheidsman van Thohoyandou, die afgelope week byna duisende rande gekos, nadat geld kamstig verkeerdelik in sy rekening inbetaal is as deel van die veelbesproke deposito-slenter.
Burger het Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê dat die poging om hom uit ‘n totaal bedrag van net oor die R37 500 te bedrieg begin het met ‘n vals elektroniese inbetaling.
‘n Besigheid met die naam S&S Construction het Burger, eienaar van Sharp-Sharp Auto Centre, genader vir ‘n kwotasie vir herstelwerk op ‘n voertuig. Die kontakpersoon, ene Morgan William, het vir Burger gesê dat hy ‘n bedrag van R1 982.35 in Sharp-Sharp Auto Centre se rekening sal inbetaal, sodat herstelwerk so gou moontlik kan begin.
Volgens Burger het sy besigheid op Vrydag, 22 September, ‘n faks ontvang as bewys van ‘n elektroniese inbetaling aan sy besigheid. Burger is verder deur S&S Construction in kennis gestel dat hulle die verkeerde bedrag (amper R40 000) aan hom oorbetaal het en dat die bedrag van R1 982.35 in ‘n ander persoon se rekening beland het.
S&S Construction het toe Burger versoek om geld aan hom verskuldig vanaf die groot bedrag af te trek en sou gou moontlik die verskil weer aan S&S Con¬struction terug te betaal.
Burger het S&S Construction in kennis gestel dat hulle tot na die langnaweek sou moes wag vir die “terugbetaling”. Burger het egter wyslik besluit om Dinsdag eers sy bankstate na te gaan. Alhoewel daar wel ‘n soortgelyke inbetaling was, het die staat getoon dat dit per tjek gedoen is en nie elektronies nie soos op S&S Construction se faks nie.
Burger het dadelik sy bank op Makhado (Louis Trichardt) geskakel. By verdere ondersoek het dit aan die lig gekom dat S&S Construction se bankbesonderhede vals was en dat nie een van die besigheid se nommers wat aan Burger gegee is, werk nie. Die ene mnr. Morgan William het ook nie bestaan nie.
Burger het hierop die polisie in kennis gestel van die slenter. Die skurke het egter oudergewoonte tussen neus en ore verdwyn.
Burger het met verligting gesê dat hy dankbaar is dat hy nie die geld oorbetaal het nie en eers by sy bank van die transaksie seker gemaak het. Hy het ander besighede in die streek gewaarsku om deurlopend bedag te wees op dié slenter.

ADVERTISEMENT:
