ADVERTISEMENT:

 

Heide-Lene Jonck (23) is steeds in 'n kritieke toestand in die intensiewe sorgeenheid van die Pietersburg Provinsiale Hospitaal. Foto verskaf.

Heidi-Lene veg steeds vir haar lewe

 

News  Date: 02 April 2018

 

Die 23-jarige Heidi-Lene Jonck veg steeds om haar lewe in die intensiewe eenheid van die Pietersburg Provinsiale Hospitaal.

Party dae gaan dit beter as ander het Heidi-Lene se sussie, Elze-Marie du Preez, dié week gesê. As gesin, het Elze-Marie bygevoeg, is hulle dankbaar vir elke bietjie genade.

“Dit is hierdie gewag wat ‘n mens rêrig lewendig opvreet … maar ek sê vir jou, dit is met gebed dat sy tot hier gekom het ... wat die Here haar beskerm het ... wat ons as gesin op ons voete hou en staande hou en sterk bly ... ons moet sterk bly vir haar; ons móét sterk wees vir haar,” het Elze-Marie Dinsdag telefonies aan die Zoutpansberger gesê.

Heidi-Lene is al vir meer as twee weke in die hospitaal en het verlede Vrydag haar 23ste verjaarsdag in die hospitaal deurgebring. Sy het ernstige beserings opgedoen ná ‘n bootongeluk.

Sy het op Sondag, 11 Maart, saam met vriende by die Albasinidam baljaar en op ‘n binneband gery wat agter ‘n boot gesleep is op die dam. Van die vriende het op ‘n stilstaande boot op die dam ontspan, terwyl ‘n tweede boot die binneband getrek het. Heidi-Lene is, toe die boot skerp weggedraai het, teen die agterkant van die stilstaande boot geslinger.

Met die slag is Heidi-Lene se linker femur gebreek. Dié is intussen geopereer en met ‘n pen geheg. Heidi-Lene se dokters wou eers wag totdat sy nie meer onder verdowing is nie voordat hulle aan haar opereer, maar moes inderhaas die breuk heg omdat Heidi-Lene te veel bloed verloor het.

Dit was egter die hou wat Heidi-Lene teen haar kop weg het wat nou die meeste probleme veroorsaak.

Volgens haar dokters is Heidi-Lene verlam aan die linkerkant van haar liggaam. Haar dokters kan egter nog nie bevestig of die verlamming permanent gaan wees nie. Hulle moet eers wag dat sy haar volle bewussyn herwin en die swelling op haar brein gesak het. “Die breinskandering het geen bloeding op die brein gewys nie, maar daar is definitief breinskade en verlamming, maar hulle kan nie nou al vir ons sê of dit permanent is nie,” het Elze-Marie gesê.

Heidi-Lene word ook nog deur middel van ‘n ventilasiebuis op suurstof gehou, omdat sy sukkel met asemhaling die oomblik as haar verdowing minder gemaak word. “Dit lyk of sy klein beroertes kry,” het Elze-Marie gesê.

Volgens die dokters beperk die verdowing die breinaktiwiteite wat Heidi-Lene se liggaam tyd gee om gesond te word. “Die dokters het gesê hulle kan nie nou aan Heidi-Lene se brein opereer nie, en dat al wat haar nou gesond gaan maak, is tyd,” het Elze-Marie gesê.

Heidi-Lene reageer wel op die mense om haar se stemme, wat daarop dui dat die swelling wel stadig maar seker besig is om minder te word. “Sy hou nie van die pyp in haar keel nie, maar as ek met haar begin praat, dan raak sy weer rustig ... partykeer beweeg haar regteroog ... of haar mond kreukel so,” het Elze-Marie vertel.

Heidi-Lene was teen druktyd op haar tweede kursus antibiotika, nadat sy ‘n infeksie in haar longe opgedoen het. Dit is moontlik aangehelp deur die damwater wat sy tydens die ongeluk ingesluk het.

Dit is vir Elze-Marie hartseer om haar sussie so te sien lê, maar weens werksverpligtinge is dit nie moontlik vir haar om elke dag by haar sussie te wees nie. “Ons familie en vriende los mekaar af, maar ons probeer dat daar ten minste een keer per dag iemand bekend is wat inloer by Heidi,” het Elze-Marie gesê. Daar is wel heelwat “engele” wat mooi na Heidi-Lene omsien by die hospitaal. “Ons kan regtig nie kla oor die diens wat ons ontvang by die provinsiale hospitaal nie, en is dankbaar vir al die hulp en gebede wat ons tot dusver ontvang het.”

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines