

ADVERTISEMENT:

News Date: 29 September 2006
Verkeer in Songozwistraat is verlede Woensdag, 20 September, erg ontwrig deur ‘n massa ontstoke betogers.
Die betogers vanaf die Dzanani-omgewing het in Makhado (Louis Trichardt) kom betoog om hul ontevredenheid oor swak dienslewering van die munisipaliteit te wys. Die Makhado Munisipaliteit het die opmars goedgekeur, maar probleme het ontstaan toe die betogers van die voorafbepaalde roete afgewyk het. Die hulp van die polisie is ingeroep om die vrede weer te herstel.
Volgens die memorandum wat uiteindelik oorhandig is, is inwoners van die Dzanani-omgewing ongelukkig oor die swak toestand van hul teerpaaie, gebrekkige water- en elektrisiteitsvoorsiening, die ontwikkeling van oop gebiede en ‘n winkelkompleks, gebrekkige straatligte, gebrekkige ontspanningsareas en die oprigting van ‘n sentrum om noodgevalle doeltreffend te kan hanteer.
Ten spyte van die moles oor die verkeerde roete wat gevolg is, het die res van die betoging sonder voorval verloop behalwe vir een vrou wat deur die polisie gearresteer is. Die vrou is egter na die betoging weer vrygelaat.

ADVERTISEMENT:
