ADVERTISEMENT:

 

'n Onlangse foto van oom Gert en tannie Pieta Wepener, afgeneem tydens die die viering van Geloftedag by die Schoemansdal Feesterrein in Desember. 

Tannie Pieta in plaashuis aangeval

 

As dit nie was vir die lelike blou oog nie, sou ‘n mens nie maklik kon raai dat die tingerige tannie Pieta Wepener ‘n plaasaanval oorleef het nie.

Die 77-jarige tannie Pieta is Dinsdag in haar huis saam met haar huishulp deur twee mans aangehou op hulle plaas sowat vier kilometer buite Louis Trichardt. “Aan die einde van die dag besef mens net dat alles wat ons is en het net genade van Bo is ... maar ek dink dit is goed dat hierdie gebeur het, sodat ons nou kan sien waar die leemtes in ons sekuriteit is, en sodat ons almal meer paraat kan wees,” het tannie Pieta Woensdag in ‘n onderhoud aan die Zoutpansberger gesê.

Haar nagmerrie ervaring het begin toe sy ‘n geskuifel in die kombuis gehoor het. Sy was maar nog net ‘n kort rukkie by die huis, en het in haar kamer gesit en boek lees. Haar eggenoot, oom Gert, was toe ook net weg nadat hy klaar middagete geëet het.  

Tannie Pieta het haarself yskoud geskrik toe sy sien dat haar huishulp in die gang af geforseer word deur ‘n rower wat ‘n mes teen haar keel gedruk hou. Sy sou later by die huishulp uitvind dat daar nog ‘n rower was en dat dié wag gestaan het buite die huis terwyl sy makker binne-in besig was.

Tannie Pieta het dadelik opgemerk dat die rower baie senuweeagtig voorgekom het en dat sy observasievermoë nie so lekker was nie. Die rower het oom Gert se .222-jaggeweer in die hoek van die kamer gewaar, dit gegryp en die twee vrouens daarmee gedreig, min wetende dat die sluitstuk nie saam met die geweer gebêre word nie en dat dit dus nutteloos was. Die rower het ook ‘n verkyker gegryp.

Gewapen met die jaggeweer het die rower oor en oor vir tannie Pieta gesê dat hy vuurwapens soek. Die rower het ook aangedring op geld en toe gevra waar die kluis se sleutels gebêre word. Hierna het hy die twee vrouens uit die kamer geforseer, terug in die gang af na die kombuis.

In dié stadium het hy die geweer op tannie Pieta gerig en gedreig om haar te skiet as sy nie voldoen aan sy eise nie. Hy het haar ook met die plathand twee keer deur die gesig geklap. “... hy het die heeltyd geskreeu ‘I’ll kill you, I’ll kill you’ en “Where’s the guns?’ En jong, dis tóé dat ek in sy oë sien, daar is geen genade nie,” het tannie Pieta vertel.

Met dié wat die rower haar geklap het, het sy na die toonbank in die kombuis gegryp om nie om te val nie. Sy het toe opgemerk dat die vuurwapen nutteloos was en sy en die huishulp het omgedraai, teruggehardloop slaapkamer toe en hulleself daarin toegesluit. “Ons vermoed ook dat die rower eerder besluit het om te vlug omdat hy ons twee plaaswerkers buite opgemerk het,” het tannie Pieta gesê.

In die veiligheid van haar slaapkamer kon tannie Pieta haar selfoon gebruik om hulp te ontbied. “Ek het gelukkig ‘n goeie gewoonte om my handsak en sleutels in my kamer te bêre as ek by die huis kom, en gelukkig was my selfoon binne-in my handsak,” het sy gesê.

Hulp het vinnig vanuit alle oorde opgedaag, selfs uit Meyerton. Met dié dat tannie Pieta probeer bel het vir hulp, kon sy nie dadelik vir oom Gert in die hande kry nie. Haar foon se kontaklys was om een of ander duistere rede gesluit gewees en sy het toe in haar adresboekie ‘n buurman se nommer gevind en geskakel, sonder om te besef dat dit ‘n ou nommer is wat reeds aan iemand anders toegewys is.

Die vrou wat die oproep geantwoord het, was gelukkig baie behulpsaam en het vir tannie Pieta versoek om kalm te bly en nie te hard te praat nie, sodat die rowers nie kon agterom sy het ‘n foon nie. Die onbekende vrou het toe vanuit Meyerton die Makhado Polisie geskakel om hulle in kennis te stel dat daar iemand in nood is.  

Intussen het die Wepeners se plaaswerkers gesien hoe die twee rowers weghardloop van die huis af en hulle agterna gesit. Die soektog na die mans is voortgesit deur lede van die plaaslike plaaswag, maar is belemmer deur die digte veld en lang gras.

Intussen het die plaaslike polisie bevestig dat hulle ‘n saak van huisroof geopen het, en dat hulle soektog na die twee verdagtes voortgaan. Die polisie het ‘n beroep gedoen op die publiek om hulle te help met die ondersoek en gevra dat enige iemand met inligting speur-sersant Malebo Mavhungu skakel by tel. 071 230 0968.

News - Date: 09 April 2018

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: