ADVERTISEMENT:

 

Molesteerder kan dalk net tien maande sit

 

News  Date: 06 October 2006

 

Johan Dreyer (48) is Vrydag, 29 September tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy erken het dat hy onsedelike of onbehoorlike dade met dogters jonger as 16 jaar gepleeg het, maar die moontlikheid bestaan dat hy dalk net 10 maande gevangenisstraf hoef uit te dien.

Dreyer se saak het voorgekom nadat hy op Woensdag, 20 September, in die streekshof op Makhado (Louis Trichardt) erken het dat hy vier onsedelike dade met vier minderjarige dogters gepleeg het.

Tydens uitspraak het die voorsittende beampte in die saak, landdros Marie Viljoen, Vrydag vir Dreyer tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis ingevolge die bepalinge van Artikel 276 (1)(i) van die Strafproseswet wat voorsiening maak dat die Kommissaris van Gevangenis vir Dreyer op parool kan vrylaat, onderworpe aan korrektiewe toesig en rehabilitasie.

Dreyer se regsverteenwoordiger, dr. Suwil Rudolph, het dadelik na vonnisoplegging aansoek gedoen om verlof tot appél teen die uitspraak.

Die hoofrede hiervoor, volgens dr. Rudolph, was dat die vonnis buitengewoon swaar is en nie genoeg klem plaas op rehabilitasie nie.

Dr. Rudolph het gevra vir ‘n datum vir die aanhoor van die aansoek om verlof tot appél en hangende dit, dat Dreyer op borg vrygelaat word. Hierop het aanklaer Hilke Janse Van Rensburg, wat namens die Staat opgetree het, gesê sy wil eers instruksie kry rondom die aansoek om ‘n datum en die hof is verdaag.

Toe die hof weer hervat het, het landdros Viljoen dadelik dr. Rudolph se aansoek van die hand gewys en gesê dat geen ander hof tot ‘n ander gevolgtrekking sal kom ten opsigte van die vonnis nie. Dreyer is hierna na die selle van die Departement Korrektiewe Dienste begelei om te begin met die uitdien van sy vonnis.

Dr. Rudolph het na die tyd aangedui dat hy instruksie ontvang het om die Regter President te petisioneer, aangesien die vonnis te swaar is.

“Die vonnis is verkeerd. Artikel 276(1)(i) kan slegs gekoppel word aan gevangenisstraf van vyf jaar en nie aan ses jaar, soos in hierdie geval nie,” sê dr. Rudolph. Dit beteken dat Dreyer se vonnis met ‘n jaar verminder kan word wat verder beteken dat hy dalk net 10 maande gevangenisstraf hoef uit te dien, aangesien Artikel 276(1)(i) daarvoor voorsiening maak dat ‘n prisonier, onderworpe aan goeie gedrag, slegs twee maande vir elke jaar gevangenisstraf hoef uit te dien.

Op ‘n vraag waarom Dreyer nie ‘n swaarder vonnis ontvang het nie, het dr. Rudolph verduidelik dat die wet nie voorskriftelik is wat minimum vonnisse betref in gevalle van onsedelike aanranding waar geen fisiese beserings plaasgevind het nie. Waar fisiese beserings wel plaasvind, word ‘n minimum vonnis van 10 jaar voorgeskryf.

 

Written by

Andries van Zyl en Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines