ADVERTISEMENT:

 

Swaar boetes wag vir die wat tuine wil mooi hou

 

News  Date: 06 October 2006

 

Boetes van tot R2 000 sal opgelê word teen inwoners wat water vir enige ander doel as vir noodsaaklike huishoudelike doeleindes gebruik.

Verskerpte wetstoepassing is sedert vandeesweek ingestel om die algehele verbod op die gebruik van munisipale water vir tuine in Makhado (Louis Trichardt) af te dwing. Inspekteurs sal te voet die situasie moniteer en voorsorg word getref om ook videogetuienis in te samel van mense wat die beperkings verontagsaam, om sodoende doeltreffende vervolging van oortreders te verseker. Benewens die boetes sal fisiese toevoerbeheer van die water by persele waar oortredings plaasvind, ook ingestel word om die beskikbare water daar te beperk.

Groot gedeeltes van die Limpopo Provinsie word nou amptelik as droogtegeteisterd beskou. In Makhado (Louis Trichardt) word die gevolge van die droogtetoestand vererger deur diefstal van kabels en duur meganiese toerusting by strategiese waterinstallasies en reservoirs. Dit het meegebring dat die dorp se reservoirs leeggeloop het.

Die Makhado Munisipaliteit se Direkteur Tegniese Dienste, mnr. Masindi Mapholi, het ‘n dringende versoek tot alle inwoners gerig om te help om die heersende waterkrisis in die dorp onder beheer te bring. Groot gedeeltes van die dorp is periodiek heeltemal sonder water. Hy het Dinsdag gesê die munisipaliteit is besig met ingrypende noodbeplanning.

Mapholi het bekend gemaak dat die hoof beheerreservoir in die dorp steeds 80%leeg is.

“So vinnig as wat ons water inpomp, so vinnig loop dit leeg. Ons sal met ons beskikbare kapasiteit net daarin kan slaag om die reservoir weer vol te kry, as almal hulle daarop toelê om so spaarsamig as moontlik met die beskikbare water te werk. Terwille van die hele dorp se voordeel, vra ons dat inwoners asseblief geduldig sal wees en die beskikbare water spaarsaam en net vir die noodsaaklikste huishoudelike doeleindes sal gebruik.”

Al die bestaande pompinstallasies sal na verwagting teen Vrydag weer volstoom kan werk. Herstelwerk was vandeesweek nog aan die gang by munisipale boorgate wat weer deur booswigte beskadig is.

“Al die installasies word nou van spesiale beveiligingsmeganismes voorsien”, het Mapholi gesê. Hy het ook bekend gemaak dat bykomende waterbronne vir die dorp voorberei word. Dit sluit in bykomende boorgate en die oprigting van die nodige infrastruktuur om water vanaf die Nandonidam te kan benut. Altesaam R99 miljoen word vir dié doel aangevra. Nagenoeg R33 miljoen word nog vir die huidige boekjaar beoog vir die konstruksie van ‘n bykomende beheerreservoir en die toerusting van bykomende boorgate by Nooitgedacht. In die volgende fases sal die nuwe pypleiding vanaf die Albasinidam na die dorp gebou word as deel van die Nandonidam-projek wat teen einde 2008 of vroeg in 2009 voltooi word.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines