

ADVERTISEMENT:

News Date: 06 October 2006
Die Staat kon nie hul saak bewys teen die agt inwoners wat gearresteer en aangekla is daarvan dat hulle die pad versper het tydens ‘n vreedsame optog in April 2004 uit protes teen die gevaarlike verkeerssituasie wat veroorsaak is deur vragmotors wat gedwing is om gebruik te maak van die Soutpansbergbergpas nie.
Die optrede het gevolg kort na die dood van die Du Preez-egpaar se twee kinders na ‘n wegholvragmotor met die voertuig gebots het waarin hulle op reis was by die Stubbsstraat/N1-kruising.
Die agt persone wat aangekla is, Christoff Janse van Rensburg, Willie Malan, Bettie Malan, Danie Coetzee, Gert Wepener, Jaco Wepener, Tok Barnard en Nico König, se saak is dié week in die hof op Makhado (Louis Trichardt) aangehoor. Hulle is almal op 3 Oktober onskuldig bevind.
Dié omstrede saak het van meet af baie belangstelling ontlok met ‘n provinsiale polisie kommissaris, Charles van Wyk, wat ‘n baie prominente rol daarin gespeel het.
Kommissaris Van Wyk getuig
Videomateriaal van die optog is aan die hof gewys. Van Wyk het ook getuig en ook twee e-posse as bewysstukke ingedien en aan die hof voorgelees.
Volgens Van Wyk is die eerste e-pos op 28 Maart van daardie jaar ontvang, waar daar melding gemaak is van planne om die N1 tussen Louis Trichardt en Musina te versper. In die tweede e-pos, wat op 1 April 2004 deur Van Wyk ontvang is, is daar geen melding daarvan om die pad te versper nie en is mense se ondersteuning gevra.
Volgens Van Wyk het hulle (die polisie) die dag van die optog na Louis Trichardt gereis en reeds onderweg klagtes begin ontvang oor mense wat met kleingeld tolgeld betaal by die Capricorn Tolhek. Van Wyk het getuig dat hulle verskeie stadig-bewegende voertuie tussen die tolhek en Bandelierkop opgemerk het en die bestuurders gewaarsku het om hul optrede te staak en vinniger te ry. Hy het gesê een van die bestuurders het hom meegedeel dat hy sal ry soos hy wil.
Van Wyk het verder gesê dat die voertuie naby aan sperstrepe gery het om verbygaande voertuie te verhinder om verby te gaan. Hy het gesê dat met sy aankoms in Louis Trichardt die protesoptrede in ‘n toestand van chaos was en dat hy die situasie kortliks opgesom het en die bevel gegee om die paaie toe te maak. Mense is daarna selektief gearresteer.
Van Wyk het gesê dat sy optrede geregverdig kan word aangesien ‘n onbekende vrou in ‘n stadium self erken het dat die optog hand uitgeruk het.
Van Wyk het opdrag gegee dat die gearresteerde persone na die plaaslike polisiestasie geneem moet word. Daar sou daar verkeerskaartjies aan hulle uitgereik word, maar geen verkeersbeamptes het opgedaag nie. Van Wyk het gesê dat die situasie vinnig opgelos kon word indien ‘n plaaslike aanklaer nie die versoek gerig het dat die beskuldigdes in die hof moet verskyn nie.
Volgens Van Wyk is die polisie onder druk geplaas en kon hulle nie die ondersoek ordentlik afhandel voor die beskuldigdes se verskyning nie. Van Wyk het verder gesê dat die beskuldigdes voor die hof volgens sy eie waarneming dié is wat aan die protesaksie deelgeneem het en dat daar slegs ‘n handjie vol mense is wat oor sy (Van Wyk) optrede gekla het. Van Wyk het gesê dat dit na sy mening van die begin af die boere se bedoeling was om die pad te versper en dat dit ‘n misdryf was wat in sy teenwoordigheid gepleeg is.
Kommissaris Van Wyk onder kruisverhoor
Die verdediging het gevra of dit ‘n algemene misdryf is om met kospakkies en koffie betrap te word, soos protesgangers versoek is om saam te bring. Die verdediging het dit verder baie vreemd gevind dat ‘n kommissaris van die polisie self verkeersoortredings ondersoek. Van Wyk se reaksie daarop was dat hy op die toneel was en dat niemand die saak beter sou kon ondersoek as hyself nie.
Die verdediging het verder aangevoer dat die polisie (Van Wyk) slegs op aannames opgetree het. Een van die prokureurs tot verdediging het selfs gesê dat Van Wyk mense gearresteer wat volgens hom “soos boere gelyk het”.
Nadat alle argumente aangehoor is, het die hof egter tot die besluit gekom dat die Staat nie sy saak kon bewys nie. In kort het hul saak daarop neergekom dat die persone skuldig was aangesien hulle betrokke was by die optog. Die hof het verder gesê dat daar gebrekkige bewyse was ten opsigte van die identiteit van die persone wat gearresteer is en dat van die persone wat betrokke was nie eers aangekla is nie. Die agt is onskuldig bevind en ontslaan.

ADVERTISEMENT:
