

ADVERTISEMENT:

News Date: 06 October 2006
‘n Unieke uitstalling wat ‘n eiesoortige kunservaring bied, tref die streek met die Cattle & Clay uitstalling van plaaslike kunstenaar Claudie Simon.
Die uitstalling se groot aantrekkingskrag is die Nguni-beeste wat amper uit die doek aangestap kom. In akrielverf op reuse doek vasgevang, het elke bees ‘n eie persoonlikheid. Daar is ook kleiner werke en werke met groepe beeste. Die ander deel van die tema, die tradisionele Venda kleipot, word op doek met verf uitgebeeld.
Die Cattle & Clay-uitstalling se spesiale opening vir genooide gaste vind op Donderdag, 12 Oktober, by die Village plaas. Die daaropvolgende drie dae, vanaf 13 tot 15 Oktober, is die werke oop vir besigtiging vanaf 09:00 tot 18:00. Die Village is ‘n geleë op die Witvlag-pad by die Brom ‘n Nell Kwekery van die Guillaumes.
Claudie het deeglike navorsing gedoen en talle foto’s van Nguni-beeste in die omliggende plattelandse dele gaan neem. Sy het ook in Mashamba kleipotte afgeneem om seker te maak dat sy die ware tradisionele kleipot vasvang op doek.
“Ek wil heeltemal uniek en anders wees,” sê Claudie.
“Van kleins af was ek anders en ‘n rebel. Daarom het ek nie die groot vyf geskilder soos almal nie. Ek het die Nguni gekies. Hierdie beeste is vir my die rou Afrika. Hulle is net so ‘n deel van Afrika soos die olifant of die leeu.”
In haar studio geniet Claudie duidelik elke oomblik van die voorbereiding vir hierdie uitstalling. Een Nguni kry gou nog ‘n verfhaal by om ‘n rooierige skyn te gee. Die bees knip amper sy oë met die lang wimpers en onwillekeurig wil ‘n mens aan die bees voel. ‘n Sakeman, wat van die Rand verbygekom het, was so betower deur die beeste dat hy onmiddellik een van die grootste skilderye gekoop het teen R6 500. Claudie het so ongeveer 35 werke met die bees of kleipot tema voorberei.
Die groot opgewondenheid gaan nie net oor die verf van die werke nie, maar ook oor die hele uitstalling wat ‘n grootse ervaring beloof.
“Dis nie die tipiese uitstalling nie. Met die misvloere, beesvelle en beesklokke, gaan dit die beste atmosfeer wees,” sê Claudie. Hierin word sy bygestaan deur Celia Guillaume Ferreira, ‘n groot inspirasie vir Claudie.
“Celia het ook die titel van die uitstalling gekies,” sê Claudie. Verder is Claudie se man, Emil, vir haar ‘n besondere steunpilaar en sy steur haar definitief aan sy kritiek asook aan die van haar drie kunssinnige kinders.
Claudie, ‘n nooi Cronjé van Louis Trichardt, het haar eerste kunsuitstalling in 2004 in Polokwane gehou. In daardie stadium het hulle op Alldays gebly, waar oom Jan Neser vir haar ‘n groot inspirasie was. Claudie en haar gesin woon die afgelope jaar weer in Louis Trichardt.
Vir meer inligting, skakel 084 616 1571 of 082 804 9650.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
