

ADVERTISEMENT:

News Date: 29 April 2018
Wat gaan aan, waar is die oorlog!? Dit is wat menige inwoners van Louis Trichardt hulleself die afgelope tyd begin afvra.
Veral oor naweke is dit asof daar allerhande soorte duiwels losgelaat word in die dorp, en die laaste twee naweke in besonder.
Aande wat gewoonlik rustig is, is nou gevul met die geklap van skote, loeiende alarms en skreeuende motorbande. ‘n Vriendin se ma SMS Saterdag: “Bly waar jy is. Dit klink soos ‘n oorlog, baie skote. Bel jou weer as dit veilig is.” Dit was in die omgewing van Rissik- en Burgerstraat.
Voorverlede Saterdag was daar ook heelwat inwoners wat hulleself paniekbevange in hulle huise toegesluit het, nadat dit geklink het of daar ‘n “mini-oorlog naby die groengordel-area [suid van die N1-verkeerssirkel] gewoed het.”
Die Makhado Polisie het hierdie week bevestig dat mense die skote gehoor het wat tussen rowers en sekuriteitswagte afgevuur is op die N1-noord, naby die vragmotors se gruisbedding. Volgens plaaslike polisiewoordvoerder konst. Irene Radzilane het ‘n onbekende aantal verdagtes Sondagaand, 15 April, toegeslaan op ‘n konvooi vragmotors wat koper vervoer het.
Die vragmotorbestuurders het glo gestop om water af te slaan, toe die verdagtes uit die bosse op hulle en hul sekuriteitswagte afgestorm het. ‘n Skietgeveg het tussen die rowers en die wagte ontstaan. Ten spyte hiervan kon die rowers nogtans daarin slaag om van die sekuriteitswagte se vuurwapens af te vat. Niemand is glo gewond in die voorval nie, maar die verdagtes is nog soek.
Dieselfde naweek, op 14 April, is twee vrouens aangeval wat laataand huis toe gestap het na hulle klaar was met hulle werkskof by Shoprite. Die twee vrouens, me. Rudzani Ligavha en me. Cornelia Ndhlovu, was op pad in ‘n suidelike rigting in Kroghstraat, toe hulle naby die Shell vulstasie deur drie mans aangeval is.
Die rowers het Ndhlovu se handsak en inkopiesakke probeer gryp, maar sy het dit vasgeklem. Een rower het haar toe met ‘n skerp voorwerp deur haar linkerhand gesteek, sodat sy ná die tyd moes steke kry. In pyn het sy haar sakke gelos, en die rowers het toe beide haar en Ligavha se handsakke en inkopies gegryp en op die vlug geslaan.
Beide sit met die hande in die hare omdat hulle nou te bang is om in die aande huis toe te loop, maar nie kan ophou werk nie. “Ons werk tot laat, en teen daardie tyd is al die busse en taxi’s al weg,” het die vrouens kort ná die aanval gesê.
Verlede week Donderdag was die polisie ook op soek na drie gewapende rowers wat toegeslaan het op die Desai Cash & Carry in Unikastraat. Die rowers het helderoordag ‘n 44-jarige werknemer in die winkel gedreig. “Die verdagtes kon daarin slaag om weg te kom met ‘n onbekende bedrag geld wat hulle uit die kasregisters gesteel het, asook vier selfone,” het Radzilane gesê.
Die rowers het te voet die bosse in gevlug. Plaaslike polisielede het hulle agterna gesit, maar die rowers het hulle ongelukkig ontglip. Van die gesteelde geld is na bewering deur die polisie opgetel in die bosse, nie te ver van Desai se perseel af nie. Niemand is in die voorval beseer nie.
Intussen het die polisie bevestig dat hulle nie enige klagte ontvang het van skote wat in Burger- of Rissikstraat afgevuur is nie. Die Soutpansberg Dorpswag het by navraag bevestig dat daar ook nie by hulle gekla is oor dié skote nie.
Beide het wel die publiek gewaarsku om hulle weer te gaan vergewis van die vuurwapenwet, en dat die nalatige afvuur van ‘n vuurwapen ‘n kriminele oortreding is. Buiten swaar boetes maak die wet ook voorsiening vir tronkstraf, en indien ‘n persoon skuldig bevind word in ‘n hof, kan sy wapenlisensie opgeskort word en sy vuurwapens gekonfiskeer word.
Radzilane het op haar beurt inwoners versoek om die polisie skakel as hulle skote hoor. Sy het gevra dat ‘n klag so volledig as moontlik ingedien word, met ander woorde dat, sover dit moontlik is, die area en die klaer se besonderhede duidelik deurgegee moet word.
Die aanklagkantoor kan enige tyd van die dag geskakel word by tel. 015 519 4300.
In nog ‘n bisarre voorval het die eienaars van Archer Paint Centre in Rissikstraat sowat twee weke gelede ‘n 9mm koeëlpunt in hul winkel gevind, nadat iemand aan hulle uitgewys het dat daar ‘n koeëlgat in hul dak is. Die voorval is nie by die polisie aangemeld nie, maar die vermoede bestaan dat die koeëlpunt afkomstig is van iemand wat ‘n skoot in die lug afgetrek het en die koeëlpunt weer teruggeval het aarde toe.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
