

ADVERTISEMENT:

Mékayle Geyer (17) glimlag vanuit haar hospitaalbed, waar sy behandeling ontvang vir 'n seldsame senuweesiekte wat haar gedeeltelik verlam gelaat het. Foto verskaf.
News Date: 30 April 2018
‘n Seldsame immuniteitsiekte het die lewe van ‘n plaaslike jong meisie drasties verander.
Die 17-jarige Mékayle Geyer van Louis Trichardt is verlede week gediagnoseer met Guillain-Barré-sindroom, en sal heel waarskynlik van voor af moet leer om te loop.
Hierdie baie rare siekte het Mékayle, ‘n ywerige hokkiespeler en leerling van Hoërskool Louis Trichardt, binne enkele dae verlam in haar onderlyf gelaat.
Haar ouers, Rentia en Fanie Geyer, moes haar Vrydag (20ste) inderhaas deurjaag na die Wilgers Hopsitaal in Pretoria toe Mékayle deur die aand al die gevoel in haar bene en voete verloor het.
Mékayle is toe reeds deur vyf dokters, waarvan drie spesialiste is, behandel. In retrospeksie het Rentia en Fanie besef dat hulle kind reeds in Januarie simptome gewys het. Hulle rooikopkind is aanvanklik eers met ‘n maagvirus gediagnoseer, en later drie keer getoets vir malaria. ‘n Breinskandering het ook nie enige abnormaliteite gewys nie.
Steeds het Mékayle nie regtig gesond geword nie, en sy het die naweek voor sy opgeneem is by die huis gebly met kroniese hoofpyne. “Sy het in haar lewe nog nooit migraines gekry nie,” het Rentia vertel.
Mékayle is Maandag en Dinsdag skool toe, maar het steeds nie beter gevoel nie, en vir haar ma gesê daar is fout met haar voete, want sy sukkel om te loop.
“Woensdag was dit nog erger. Donderdag toe slaan sy reg agteroor. Toe sy opstaan van die bed af toe gee haar bene onder haar in ... en so het dit erger en erger geword,” het Rentia vertel.
Mékayle is van die Wilgers Hospitaal oorgeplaas na die Little Company of Mary Hosptiaal, waar ‘n dokter haar vir die eerste keer gediagnoseer het met Guillain-Barré-sindroom.
Hierdie siekte word vermoedelik deur ‘n dormante virus in ‘n persoon se lyf aangewakker. Volgens mediese bronne word daar vermoed dat die sindroom voorafgegaan word deur siektes soos respiratoriese infeksies of maaggriep.
‘n Pasiënt se liggaam begin glo dat sy immuunstelsel die senuweestelsel aanval. In die proses word die senuwees so verswak dat hulle ophou seine stuur na die brein. Spiere, in Mékayle se geval haar voete en bene, reageer dan nie soos hulle moet nie, en verlamming tree dan in. In ernstige gevalle kan pasiënte se asemhaling aangetas word, en dan moet hulle weer leer praat, sluk en asemhaal.
In Méykale se geval het die sindroom gelukkig nie soveel skade aangerig nie. “Haar hande het Vrydag wel begin lam voel, maar ons is dankbaar dat ons haar vroeg gediagnoseer gekry het,” het Rentia gesê. Sy en Fanie het besluit om Mékayle se storie te deel, in die hoop dat ander ouers nie dieselfde sal oorkom nie. “Ons is dankbaar dat ons aanhou soek het vir ‘n antwoord,” het Rentia gesê.
Méykale was Dinsdag nog in die hospitaal, waar sy behandeling ontvang het en ook begin het met ‘n strawwe fisioterapie program om haar weer op die been te kry. Vir Méykale was dit maar ‘n emosionele tydjie gewees, en omdat sy so sportief was, was dit vir haar vreeslik swaar dat sy verlede Vrydag haar hokkiewedstryd gemis het.
Haar dokter is egter hoopvol dat sy binnekort weer op die been sal wees. “Die dokter was nou hier en het gesê dit kan nog tot ‘n maand vat vir haar om weer sterk te loop, maar dit klink positief dat sy dalk môre of Donderdag huistoe kan gaan om daar aan te sterk,” het Rentia Dinsdagaand gesê.
Rentia en Fanie het almal bedank wat hulle bygestaan het in die tyd en saam gebid het vir Mékyale se herstel.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
