

ADVERTISEMENT:

Oom Jakkie van der Colff, die organiseerder van die Brug-na-Berg fietsrit, het in 2014 deur Louis Trichardt gery toe hy alleen die roete vanaf die Kaap na Beitbrug aangepak het.
News Date: 03 May 2018
Jy hoef nie die beste of vinnigste fiets te hê om te kan deel neem aan die gewilde Brug-na-Berg fietsrit nie. Trouens, jy hoef nie eens so fiks te wees nie. Al wat jy moet doen is om op te daag.
En as jy wil deelneem, is daar nog tyd om in te skryf. Die gewilde Brug-na-Berg fietsrit, waartydens groepe fietsryers in een dag die roete vanaf Beitbrug tot by Kaapstad aandurf, vind vanjaar op Saterdag, 5 Mei, plaas.
Die koördineerder van die rit, oom Jakkie van der Colff, het al einde verlede jaar begin om spanne te motiveer om aan die rit deel te neem. Sy doel is om fietsry te bevorder as ‘n gesinsport en vir die enkeling, asook om aandag te plaas op fietsryers se veiligheid. Oud, jonk, fiks, onfiks, beginners of professionele ryers, almal is welkom om deel te neem.
Die fietsrit word aangebied as ‘n informele ontspanningsrit en vorm nie deel van enige amptelike beheerliggaam nie. Dit word ook nie geborg deur ‘n spesifieke maatskappy nie. Die groepies fietsryers is egter welkom om die geleentheid te gebruik om bewusmaking te kweek of fondse in te samel vir ‘n organisasie van hul keuse.
Gelukkig hoef fietsryers darem nie die hele tog vanaf Beitbrug tot in die Kaap aan te durf nie. Elke groepie voltooi net die deel van die roete wat naby aan hulle is en gerieflik is. In die Soutpansberg het ‘n groep verlede jaar by Beitbrug weggespring en tot in Louis Trichardt gery. Terselfdertyd het ‘n groep in Louis Trichardt weggespring wat weer tot in Polokwane gery het. So het groepies fietsryers regdeur die land elk dele van die 2 000km roete voltooi.
Plaaslik is daar alreeds fietsryers wat hulle deelname bevestig het. Daarby gesê is die groepie wat kans sien vir die skof vanaf Beitbrug na Louis Trichardt heelwat kleiner as die groep wat die pad van Louis Trichardt na Polokwane gaan aflê. Die ander groep spog wel met een van die streek se oudste fietsryers, die 75-jarige oom Wim Botha.
Fietsryers hoef ook natuurlik nie die hele roete (watter een hulle ook al gekies het) te voltooi nie, en kan enige tyd stop as hulle te moeg raak.
Verlede jaar het drie plaaslike fietsryers die roete van Beitbrug na Louis Trichardt aangedurf en bykans 30 fietsryers en helpers die roete van Louis Trichardt na Polokwane.
Plaaslike fietsryers wat belangstel om deel te hê aan die projek kan met Anton van Zyl (084 616 4997), Mark Archer (083 324 8495) of Isabel Venter (073 349 1587) skakel.
Vir meer inligting oor vanjaar se rit, kan die groep se Facebook-blad besoek word. Soek vir Brug na Berg of gebruik dié skakel: https://www.facebook.com/Brug-Na-Berg-254183118343224/
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
