ADVERTISEMENT:

 

Raad kan nie langer chaos toesmeer nie

 

News  Date: 17 September 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Eienaardige watermeterlesings laat inwoners prontuit sê dat administratiewe chaos by die Makhado Munisipaliteit nou nie langer toegesmeer kan word nie.

‘n Watermeterlesing van 2091 eenhede vir Augustus het mnr. Tonie Bekker se residensiële water en elektrisiteitsrekening laat opskiet van die normale R800 na amper R10 000. Vir die 2091 kiloliter water wat hulle kwansuis sou gebruik het, is die Bekkers R7814.95 aangeslaan. Dit het hulle totale rekening op R9856.56 te staan gebring. Normaalweg is hulle waterverbruik in die omgewing van 70 kiloliter.

By navraag het die munisipale amptenaar mnr. Bekker meegedeel dat die rekenaar wys dat die lesing korrek is en wou dadelik van hom weet hoe hy gaan afbetaal. By nadere ondersoek van hul rekening, het die Bekkers bevind dat daar groot fout is met die beginlesing. Die beginlesing vir Augustus was 3650, terwyl die eindlesing van die Junie rekening al 5557 bereik het. Die munisipale amptenaar het op die stelsel gelees dat die beginlesing aangedui is as 3650. Die ongelukkige verbruiker kon nie help om te wonder of daar dan nie op die rekenaar gepeuter word met die lesings nie. Dit het gelyk asof die beginlesing “teruggedraai” is. Verlede week het die amptenaar wat met rekeningprobleme werk, gesê dat daar iets fout met die lesings moet wees.

Intussen het die Makhado Munisipaliteit se Direkteur van Korporatiewe Dienste, mnr. Peter Magwala verlede Woensdag (8ste) erken dat daar probleme met die Raad se meterlesers is. Dit het gevolg nadat ‘n pensioenaris gekla het oor die “belaglike” rekening van R22 000 wat hy ontvang het. Sy rekening vir waterverbruik alleen was ongeveer R19 000.

Vroeër vanjaar was daar ook ‘n vlaag klagtes oor foutiewe rekeninge, maar mnr. Dan Masengana, Direkteur Finansies, het in Mei gesê dat daar nie administratiewe chaos heers nie. Inwoners kom egter steeds met dieselfde tipe klagtes na vore.

Intussen het mnr. Bekker op Dinsdag (14de) tuisgekom van Sibasa, waar hy hoof van Laerskool Bergvlam is, om te vind dat hulle elektrisiteit afgesny is. Sy klagte is beantwoord met die verskoning dat hulle naam nog nie verskyn het op die lys van probleemgevalle nie. Gelukkig is die krag by die Bekkers se woning dadelik weer aangeskakel. Hulle krap egter nog steeds kop oor die geheimsinnige “terugdraai” van hulle watermeterlesing en oor hoe hulle weer hulle rekening gaan skoon kry. Dit alles versterk net die publiek se persepsie van onbekwaamheid en gebrek aan administratiewe beheer.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines