

ADVERTISEMENT:

Orals in die dorp is oorgroeide straathoeke en parke (soos ook die munisipale begraafplaas) ‘n probleem, vanweë die feit dat al die munisipale toerusting wat gebruik word vir grassny en instandhouding reeds vanaf die begin van die jaar stukkend is.
News Date: 05 May 2018
Oorgroeide sypaadjies en parke is tans ‘n seeroog in Louis Trichardt aangesien die Makhado Munisipaliteit se toerusting wat hulle gebruik om die parke en sypaadjies mee in stand te hou, na etlike maande steeds stukkend is.
Die Zoutpansberger het vroeër vanjaar berig oor die haglike toestand van die munisipale begraafplaas op Louis Trichardt en die veiligheidsgevaar wat die oorgroeide terrein vir besoekers inhou. Terselfdertyd het die koerant ook gevra waarom die begraafplaas en die dorp se parke en sypaadjies nie meer in stand gehou word nie.
In antwoord hierop het Makhado munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi in Maart gesê dat hulle ernstige probleme het met stukkende masjinerie, waarvan sommige reeds aan die begin van die jaar onklaar geraak het. Weens die stukkende masjinerie, het Bobodi gesê, kon die munisipaliteit nie byhou met hulle instandhoudingsprogram nie. Hy het egter gesê dat hulle besig was om die probleem uit te sorteer. “Ons het middel Februarie die gras laas gesny. As alles goed gaan, sal ons teen middel April weer kan sny,” het Bobodi gesê.
Middel April het gekom en gegaan en steeds was daar geen aanduiding wanneer die munisipaliteit weer hul instandhoudingsprogram gaan hervat nie. Die gras op straathoeke het intussen so hoog begin groei dat dit vir motoriste ‘n veiligheidsgevaar begin inhou het. Een so ‘n hoek was die een in Boababstraat waar dit opdraai na Elandstraat. Die gras het verlede week so hoog gestaan dat mens feitlik glad nie aankomende verkeer vanuit die systraat kon sien nie.
Die Zoutpansberger het hierdie week weer by die munisipaliteit navraag gedoen oor hul vordering met die herstel van hul masjinerie. “Ongelukkig kon ons nog nie die masjinerie herstel soos aangedui nie, maar ons het begin met ‘n program om die gras te sny met beskikbare toerusting,” het Bobodi gesê. Hy het verwys na die genoemde Boababstraathoek waar die koerant juis die afgelope naweek ‘n enkele munisipale werker opgemerk het wat besig was om met ‘n randsnyer die lang gras te sny. Ook in die munisipale begraafplaas is daar intussen begin om die lang gras te sny, alhoewel dit maar lukraak gedoen is, met kolle gras wat plek-plek gesny is terwyl die res nog hoog staan.
Volgens Bobodi sluit die stukkende masjinerie en toerusting al hulle grassnyers, klein trekker grassnyers en al hulle selfaangedrewe grassnyers in. “Ons het geen bystandtoerusting nie,” het Bobodi gesê.
Op ‘n vraag waarom die munisipaliteit so lank neem om hulle toerusting te herstel, het Bobodi munisipale beleid die skuld gegee. “Die rede is dat ons die aankoopbeleid moet volg wanneer ons dienste aanvra,” het Bobodi gesê. Hierdie beleid is op die beste van tye ‘n omslagtige proses. Buiten vir die omslagtigheid van die proses, het Bobodi ook bygevoeg, sukkel hulle om onderdele te bekom vir die herstel van die toerusting.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
