ADVERTISEMENT:

 

Foto's van verlede Donderdag se verkeersopeenhoping op die N1-suid ná 'n massiewe ongeluk waarin vier voertuie betrokke was. Verkeer was vir meer as twee ure lank vertraag in beide rigtings terwyl reddingswerkers gespartel het om die ongelukstoneel op te ruim. Foto: Steven Shulman.

Heelwat ongelukke, maar gelukkig geen sterftes

 

News  Date: 06 May 2018

 

Die afgelope naweek het letterlik met ‘n slag begin vir plaaslike motoriste.

Menige padgebruiker se planne vir die langnaweek is vir ‘n hele aantal ure vertraag na ‘n massiewe ongeluk naby die Ben Lavin-afdraai op die N1 net suid van Louis Trichardt. Een voertuig het omgeslaan, nadat die bestuurder vermoedelik beheer oor sy voertuig verloor het. Drie ander voertuie wat nie betyds kon stop nie was toe ook betrokke in die botsing.

Een persoon het ernstige snyplekke opgedoen en is na die hospitaal geneem vir mediese behandeling. Niemand is in die ongeluk dood nie. Verkeer op dié nasionale pad het egter vir etlike kilometers in beide rigtings opgehoop. Steven Shulman van Louis Trichardt was ‘n inwoner wat in die verkeer vasgesit het en toe besluit het om foto’s te neem met sy hommeltuig (drone) van hoe die verkeer opgehoop het.

Vrydag het motoriste klaarblyklik reeds by hulle bestemmings aangekom en dit was ‘n stil dag sonder enige gerapporteerde ongelukke op plaaslike paaie.

Saterdag is die plaaslike brandweer inderhaas geskakel om te help vlamme blus, nadat ‘n vragmotor op die N1 noord aan die brand geraak het. Die voorval het hom afgespeel naby die Wylliespoort-afdraai. Niemand is beseer in die voorval nie. Die vragmotor, wat ‘n vrag kunsmis aangery het na Musina toe, het onklaar geraak en toe in vlamme uitgebars. Die kajuit het heeltemal uitgebrand.

Sondag, in teenstelling, was ‘n bedrywige dag vir plaaslike reddingswerkers. Hulle moes vroegoggend al help om ‘n persoon wat vasgekeer was in ‘n motor los te sny uit die wrak. Die persoon is vasgekeer ná ‘n tromp-op botsing tussen die voertuig waarin hy op pad was naby Tshiozwi, wes van Louis Trichardt.

Amper op dieselfde tyd is sewe mense beseer in ‘n ongeluk naby Madodonga toe die Ford Ranger waarin hulle gereis het omgeslaan het. Drie mense is ernstig beseer en na die Elim Hospitaal geneem vir mediese behandeling.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines