

ADVERTISEMENT:

Die luukse BMW van die SANW waarin Jacob Marakala en sy mede-beskuldiges weggejaag het vir die polisie, pas nadat hulle na bewering werknemers van 'n plaaslike hardewarewinkel aangehou en beroof het. Foto: Limpopo Polisie.
News Date: 06 May 2018
Die weermaglid wat verlede week gearresteer is nadat hy glo die weermag se luukse voertuig gebruik het tydens ‘n gewapende roof, word ook in Pretoria aangekla van poging tot moord.
Kpl. Jacob Marakala (35) het glo in Augustus verlede jaar vir me. Carine van Staden in die bors geskiet tydens ‘n voorval van padwoede in die noorde van Pretoria. Marakala is na bewering die chauffeur van Genl. Hlatshwayo, wat gestasioneer is in Pretoria. Die Pretoria Noord Rekord het oor die voorval berig. Volgens dié berig was Van Staden en haar verloofde laataand op pad na vriende op ‘n motorfiets toe Marakala hulle glo van die pad af gestamp het.
Die paartjie het Marakala agternagesit en Van Staden het aan sy ruit gaan klop om met hom te praat. Marakala het toe glo summier ‘n wapen op haar gerig en haar geskiet. Marakala se verduideliking aan die polisie was dat hy gedink het hy word gekaap en dat hy uit vrees vir sy lewe die skoot afgetrek het. Hy is sedertdien verhoorafwagtend in die Pretoria Landdroshof op ‘n klag van poging tot moord.
Plaaslik staar Marakala verdere klagte van gewapende roof in die gesig saam met twee ander beskuldigdes, Lucas Mudau (42) van Hammanskraal en Rendani Edzani (42) van Thohoyandou. Die drie mans het verlede Donderdag in die Dzanani Landdroshof verskyn. Al drie is Maandag, 23 April, in hegtenis geneem, nadat hulle glo ‘n plaaslike hardewarewinkel in Dzanani geroof het.
Volgens die polisie het die drie na bewering die werknemers in die winkel van hul selfone beroof, en toe op die vlug geslaan. Hulle is ná ‘n wilde jaagtog deur die polisie gearresteer.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het kort ná Marakala se arrestasie in Dzanani sy gedrag veroordeel, en is in die proses om hom te ontslaan.
Intussen is Marakala, Mudau en Edzani nie borg toegestaan nie. Hulle saak is tot 17 Mei uitgestel om die polisie die kans te gee om die saak verder te ondersoek.
Volgens provinsiale polisiewoordvoerder Lt.kol. Moatshe Ngoepe het die polisie in hul opvolgondersoeke ná die mans se arrestasie ‘n hele aantal gesteelde voertuie teruggekry. Feitlik al die voertuie is as gesteel of gekaap aangemeld in Gauteng, en die vermoede bestaan dat die drie mans saamgespan het en die voertuie dan uit die hand verkoop het. "Daar word vermoed dat die verdagtes soveel as 40 gesteelde voertuie vanuit die Nzhelele en Musina areas verkoop het," het Ngoepe gesê.
Ngoepe het ‘n beroep gedoen op die publiek om met die polisie in verbinding te tree indien hulle moontlik ‘n voertuig van een van die drie aangekoop het.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
