ADVERTISEMENT:

 

'n Plaaslike polisieman staan wag by die toneel waar 'n vermeende rower se lyk in die bosse lê.

Vermeende rower doodgeskiet

 

‘n Vermeende huisrower is op Werkersdag (1 Mei) tydens ‘n onderonsie met die Makhado Polisie doodgeskiet.

Die drama het Dinsdagoggend ontvou naby die N1/Stubbsstraat-verkeersirkel in Louis Trichardt. Die polisie se wilde skote het inwoners in die omgewing benoud na hulle telefone laat gryp om uit te vind wat aan die gang is. Dit was die tweede keer in drie weke dat inwoners se rus in daardie omgewing deur geweerskote onderbreek is.

Aanvanklik is inligting ontvang dat die polisie een verdagte doodgeskiet het, nadat hulle die verdagtes vanaf die Cloud’s End Hotel agtervolg het. Daar was ook nie duidelikheid oor hoeveel verdagtes weggekom het nie.

Inligting wat die Zoutpansberger by die skiettoneel ontvang het, het daarop gedui dat die verdagte gesoek was in verband met ‘n gewapende huisroof wat Maandagaand naby Tshikota gerapporteer is. Daar is gesê dat die verdagte ‘n wapen gerig het op die polisie, maar volgens beweringe in omloop was dit ‘n speelgoedgeweer.

Provinsiale polisiewoordvoerder Lt.kol. Moatshe Ngoepe het Woensdag gesê dat die polisie die saak nog ondersoek en nie bereid is om in die fyner detail van die saak in te gaan of verder te spekuleer nie. Hy het gereageer op navrae dat die verdagte ‘n speelgoedgeweer gerig het op die polisielede wat hom agtervolg het.

Volgens Ngoepe het die polisie ‘n sterk vermoede dat die dooie verdagte en nog twee mans Maandagaand ‘n 34-jarige man by sy huis in Tshikota aangehou en beroof het. Die slagoffer se naam is nog nie bekendgemaak nie. “Drie verdagtes het by die huurhuis van die slagoffer ingekom, hom geskiet en weggekom met selfone, skootrekenaars en geld wat hulle gebuit het,” het Ngoepe Woensdag gesê. Die slagoffer is kort ná die roof in die hospitaal dood.

Ngoepe het gesê die drie verdagtes is later opgemerk in Hlangananistraat tydens ‘n “intelligensie-gedrewe operasie”.

“Die verdagtes het begin om op die polisie te skiet, wat op hulle beurt teruggeskiet het en toe een van die verdagtes noodlottig gewond het,” het Ngoepe gesê. Die verdagte het in die bosse oorkant Louis Trichardt Lodge, langs die N1, gesterf.

Hierna het die soektog na sy twee vermeende makkers in alle erns begin, en die polisie het die Soutpansberg Dorpswag gevra om ook te help. Die hulp van die polisie se spoorsnyers- en honde-eenheid, asook ‘n polisiehelikopter, is in die soektog ingespan.

Die soektog het die polisie en dorpswag gelei tot in die groengordel-area tussen Rivierstraat en die N1. Ongelukkig kon die twee verdagtes daarin slaag om arrestasie te ontwyk, maar van die gesteelde goedere en klerasie is in die bosse teruggevind.

Die soektog is omstreeks 18:00, ongeveer ses ure nadat die vermeende rower doodgeskiet is, afgelas.

Ngoepe het Woensdag bevestig dat die polisie sake van huisroof en moord geopen het vir verdere ondersoek. Hy het ‘n beroep gedoen op die publiek om die polisie te help in hulle ondersoek en soektog na die verdagtes. Enige iemand met inligting word versoek om met kapt. Madula (072 467 4431) in verbinding te tree.

News - Date: 07 May 2018

Recent Articles

Search for a story:

 

'n Plaaslike polisieman staan wag by die toneel waar 'n vermeende rower se lyk in die bosse lê.

'n Plaaslike polisieman staan wag by die toneel waar 'n vermeende rower se lyk in die bosse lê.

'n Vermeende rower is Dinsdag doodgeskiet nadat hy glo op lede van die Makhado Polisie geskiet het.

 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: