

ADVERTISEMENT:

News Date: 13 October 2006
Die nuus dat mnr. Sakkie Scheepers, hooflanddros op Makhado (Louis Trichardt) en ‘n legende in eie reg in die gange van justisie, met terminale kanker gediagnoseer is, het as ‘n groot skok gekom vir menige wat hom ken.
Oom Sakkie (59), soos almal hom ken, is tans met siekverlof by die huis. Die diagnose lyk nie goed nie, maar te midde hiervan, glimlag hy steeds en is altyd gereed met ‘n grappie of twee - dit is mos hoe mense hom maar ken.
“Oom Sakkie, is daar iets wat oom graag vir die inwoners wil sê,” kom die vraag. Na so bietjie nadink volg die antwoord.
“Dankie vir die ondersteuning en groete … nee wag, sê eerder vir hulle geseënde Kersfees en ‘n voorspoedige Nuwe Jaar as ek julle nie weer sien nie,” glimlag hy.
Hierdie kankerstories is maar ‘n lelike ding, maar oom Sakkie praat met ‘n vrede in sy gemoed.
“Dit is maar hoe ‘n mens lewe en jou verhouding teenoor jou Skepper. ‘n Mens moet ook positief bly; wonderwerke het al voorheen gebeur,” sê hy.
Op Saterdag, 9 September, is oom Sakkie voorlopig alleen na ‘n karavaansaamtrek in Pretoria. Vroulief Riana sou later die week by hom aansluit. Daar aangekom, is daar opgeslaan, vuur gemaak en gebraai. Oom Sakkie het egter geweldig siek en koud begin voel. Hy is vroeg die aand na ete bed toe.
Hierdie “slegvoel” het die hele week aangehou.
“Dit het gevoel soos ‘n rol doringdraad wat ek ingesluk het,” vertel oom Sakkie.
Dit was toe dié “doringdraad” gevoel wat later deur medici personeel by die Kloofhospitaal in Pretoria gediagnoseer is as Maligne Melanoom kanker. Oom Sakkie se lewer is daardeur aangetas. Die kanker is afkomstig van ‘n velkanker wat die lewer, rugmurg, brein en pelvis kan vernietig.
“Min mense besef werklik hoe gevaarlik velkanker is,” merk Riana op.
Aanvanklik was medici positief dat die kanker met chemoterapie behandel kon word. Die slegte nuus het egter kom dat dit sinneloos sal wees om te begin met behandeling, aangesien die kanker reeds te ver versprei het.
Oom Sakkie wou sommer dadelik weet wanneer kan hy weer gaan werk. Hy glo daarin dat ‘n mens moet werk, maar oom Sakkie sal nie weer gaan werk nie – dit na 12 jaar as hooflanddros op die dorp en 42 jaar in justisie. Hy ontvang medikasie vir die pyn en moet baie rus. Juis hieroor het Riana en die familie gevra dat persone wat graag vir oom Sakkie wil kom hallo sê, asseblief vooraf ‘n afspraak maak. Riana kan geskakel word by tel. 082 257 7476.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
