ADVERTISEMENT:

 

Inwoners mor oor hoë rekeninge en boetes

 

News  Date: 13 October 2006

 

Belastingbetalers van beide Makhado (Louis Trichardt) en Levubu word weereens getreiter met buitensporige hoë water- en elektrisiteitsrekeninge.

Die skynbare administratiewe chaos by die Makhado Munisipaliteit se rekeninge afdeling was al by talle vorige geleentheid onder die soeklig.

Talle inwoners het verlede week hul stemme dik gemaak oor die skielike styging in hul rekenings.

Die drukkery van die Zoutpansberger/Limpopo Mirror, wat al vir ‘n geruime gesluit staan weens herstelwerk, se maandelikse gemiddelde rekening het sowat R220 per maand beloop. Die rekening vir September het toe skielik tot R3 500 gestyg. Geen uiteensetting kon gegee word waarom die rekening skielik so gestyg het. In ‘n ander geval was ‘n inwoner se rekening sommer drie keer die normale. Vir haar is gesê sy moet maar net betaal wat sy normaalweg betaal, terwyl daar gepoog word om die probleem uit te sorteer.

Op Levubu kla een belastingbetaler nie oor die buitensporige rekenings nie, maar wel oor onnodige “boetes” wat maandeliks op sy rekening gehef word.

Volgens prof. Dries Bester het die probleem ‘n jaar terug begin kop uitsteek toe ‘n bedrag van sowat R158 op sy rekeningstaat begin wys het onder die beskrywing “diverse”.

Prof. Bester het begin navraag doen oor dié “diverse” bedrag op sy rekening. Hy is toe in kennis gestel dat dit boetes is vir die laat betaling van sy water- en elektrisiteitrekening.

Prof. Bester het aan die Zoutpansberger gesê dat hy sy rekening per tjek betaal en dat hy boetes kry, aangesien die tjek eers sewe dae moet lê voor die betaling aanvaar kan word. Dit het ook by ondersoek aan die lig gekom dat die persone wat van tjeks gebruik maak betyds betaal, maar dat die tjeks laat gebank word deur die Raad. Prof. Bester is ongelukkig oor die feit dat die belastingbetaler moet boetes betaal as gevolg van die Raad se sloerdery. In een geval is een van sy tjeks reeds op 3 Augustus aan die Raad oorhandig, maar eers op 14 Augustus in die Raad se rekening inbetaal. Prof. Bester sê dit het slegs twee dae geneem vir die tjek om vanaf ABSA in Polokwane tot by Pretoria te vorder waar dit gestempel is, maar dat die Raad ‘n week gevat het om die tjeks in Polokwane te bank.

Nog ‘n klagte wat prof. Bester geopper het is die feit dat hulle soms kennis kry om te betaal eers twee dae voor betaling gemaak moet word. Hy sê hy het met ‘n dame by die Raad geskakel wat hom meegedeel het dat hulle nie verantwoordelik is vir die uitstuur van rekeninge nie en dat dit sy probleem is om toe te sien dat hy vroegtydig betaal.

Mnr. Peter Magwala, die Raad se Direkteur Korporatiewe Dienste, is genader vir kommentaar. Weens tyd het mnr. Magwala gevra dat die vrae van die Zoutpansberger oor die klagtes asseblief op skrif gestel moet word en na hulle gestuur word. Hy het onderneem om volgende week terugvoer te gee oor die aangeleentheid.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines