

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 May 2018
Die lang arm van die gereg het ‘n voortvlugtende inwoner van Louis Trichardt ingehaal in Pretoria.
Anton de Waal Koch (37) is in Pretoria gearresteer en het verlede Woensdag in die hof hier in Louis Trichardt verskyn. Buiten dat hy versuim het om ‘n hofbevel na te kom, word Koch ook van motordiefstal aangekla.
Koch is in 2016 skuldig bevind op huisbraak, nadat hy by die huis van mnr. Jerry Cloete ingebreek het en verskeie huisraad-items gesteel het. Die gesteelde goedere is verkoop, maar is kort daarna teruggekry. Dit het in sy hofsaak uitgekom dat van die gesteelde goedere aan ‘n plaaslike dwelmhandelaar verkoop is.
Koch het skuld beken in die Louis Trichardt Distrikshof. As deel van sy straf is Koch beveel om R15 000 as skadevergoeding aan Cloete te betaal. Indien hy sou versuim om dit te doen, sou ‘n vyf-jaar-lange gevangenisstraf in werking sal tree.
Nadat Koch versuim het om die betaling te maak, is daar ‘n lasbrief vir sy arrestasie uitgereik. Die polisie in Pretoria het Koch aangekeer en Woensdag na Louis Trichardt gebring waar hy dié keer in die Streekhof verskyn het.
Koch het nie in aanmerking gekom vir borg nie en sy vyf jaar tronkstraf is deur die hof bekragtig. Hy sal in aanhouding bly vir die duur van sy verhoor op aanklag van motordiefstal, asook ‘n alternatiewe klag van die besit van ‘n gesteelde voertuig. Kock sou na bewering dié voertuig van ‘n familielid in Januarie "geleen" het sonder toestemming of sonder om dit terug te gee. Koch se volgende hofverskyning is op 25 Mei.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
