

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 May 2018
Bergcare, die nie-winsgewende diensorganisasie wat poog om hulpprojekte in die streek te koördineer, is steeds fluks aan die gang en onder meer word 74 families maandeliks van kos en ander benodigdhede voorsien. Die sluiting van die Tshitandani Kinderhuis word egter as ‘n geweldige terugslag beskou.
Bergcare se algemene jaarvergadering het op 23 April plaasgevind by die NG Kerk Moedergemeente se kategeselokale. Tydens dié vergadering is terugvoering gegee oor die jaar se aktiwiteite asook die probleme waarmee die organisasie tans worstel.
In die verslag van die maatskaplike werker, mev. Eldine Peli, meld sy dat die kosprojek steeds ‘n belangrike deel vorm van die hulpverlening. Die projek word goed ondersteun deur die dorp se verskillende gemeentes en diensorganisasies. Tans word 74 kartondose vol kos en items soos seep en tandepasta elke twee weke uitgedeel. Die hulpbehoewendes sluit 65 bejaardes, 42 volwassenes en 33 kinders in. Die families word ook deurentyd geassesseer om te sien hoe hulle gehelp kan word om weer selfonderhoudend te word.
Die maatskaplike werkers is verder ook betrokke by opleiding, tuisbesoeke en kinderkampe. Ander projekte soos die reël van gratis haarsnye vir bejaardes en die aanbied van die jaarlikse Kersete was ook baie gewild en goed ondersteun die afgelope jaar.
Bergcare se Charity Shop het die afgelope maand of wat weer ‘n nuwe oplewing getoon. Me. Thahalana Botha is in beheer van dié winkeltjie waar tweedehandse klere onder meer te koop aangebied word. Die klere is hoofsaaklik afkomstig van skenkings uit die gemeenskap. In sekere gevalle word behoeftiges uit dié voorraad gehelp, maar grotendeels word dit teen lae pryse verkoop. Die inkomste hieruit verdien word weer in Bergcare se ander projekte teruggeploeg.
Bergcare se voorsitter, Andries Smal, het tydens die jaarvergadering ook terugvoer gegee rondom die krisis by die Tshitandani Kinderhuis. Alhoewel die kinderhuis as ‘n aparte nie-winsgewende organisasie funksioneer, is Bergcare baie betrokke by die projek en verskaf bystand op talle vlakke. Die hartseernuus was egter dat die kinderhuis gedwing is om te sluit omdat die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling nie die permit om na die kinders om te sien hernu het nie. Die kinderhuis het reeds in Desember 2017 aansoek gedoen om ‘n hernuwing, maar dit is steeds nie uitgereik nie. Nadat die departement die kinderhuis in April kennis gegee het dat hulle buite die raamwerk van die wet optree, is hulle met geen ander keuse gelaat as om te sluit nie. Die 20 kinders wat versorg is, is oorgeplaas na Musina, onder baie traumatiese omstandighede.
Tydens die jaarvergadering is ook terugvoer gegee oor die organisasie se finansiële posisie. Bergcare het die afgelope jaar ‘n verlies van bykans R29 000 getoon, maar danksy ‘n surplus vanuit vorige jare is die organisasie finansieel steeds gesond. Die grootste bron van inkomste was kontant skenkings, wat R258 854 bedra het. Die grootste enkele uitgawe was die aankoop van kos vir hulpbehoewendes (R112 677).
Smal het gemeld dat die bydraes vanuit die gemeenskap veel meer is as wat in die finansiële state reflekteer. Verskeie individue asook besighede het deur die jaar skenkings van vleis, groente en vrugte by Bergcare afgelewer. Die totale waarde van die kos wat uitgedeel is, is nader aan R800 000, het Smal gesê.
Twee nuwe direksielede is tydens die jaarvergadering verkies. Die direksie bestaan uit Schalk Corbett, Andries Smal, ds. Jan Pretorius, Eldine Peli, Anton van Zyl en Ian Bannatyne.
Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

ADVERTISEMENT:
