ADVERTISEMENT:

 

Seker 90% van oom Freek Kotzee se museumversameling het te doen met die ou spoorweë. Die museum is as ‘n spoorwegmuseum geregistreer toe dit jare gelede by die Louis Trichardt treinstasie te siene was.

Oom Freek se museum beslis 'n besoek werd

 

Wie het geweet dat Louis Trichardt spog met sy eie museum waar jy jouself vir ure lank kan gaan verloor in die geskiedenis van die streek met interessante staaltjies van feitlik elke liewe museumstuk?

Die “kurator” van hierdie museum is die 70-jarige oom Freek Kotzee, ‘n man van vele talente. Sommige inwoners sal hom onthou vir sy Rose-wynmakery jare gelede. Hierdie oud-spoorwegman is egter meer bekend vir sy jarelange bedryf van die ou spoorwegmuseum by die Louis Trichardt treinstasie. Die museum is met die aanbreek van die nuwe bedeling mee weggedoen.

Met die intrapslag is die hoeveelheid items in die museum ietwat oorweldigend. Daar is letterlik iets van alles, van memorabilia uit die boereoorlog, onder andere uit die konsentrasiekamp by Marabastad (vandag Eerstegoud buite Polokwane), tot by ‘n versameling skoenlappers. Ja, te midde van alles is oom Freek ook ‘n geregistreerde skoenlapper versamelaar.

“Negentig persent van die versameling het egter te doen met die ou spoorweë. Die museum was as ‘n spoorwegmuseum geregistreer toe dit nog by die stasie was,” sê oom Freek.

Vir ‘n beter “museumgids” kan mens nie vra. Oom Freek staan gereed om feitlik elke liewe item se herkoms en gebruik te verduidelik.

“Maar hier is nog baie om uit te sorteer. Ek is nou besig met etikettering ... Hier is nog baie goed wat moet kom – hordes goeters! Ek het nie in my lewe gedink ek het so baie bleddie goed nie,” glimlag oom Freek.

Hier verwys hy onder andere na sy mes- en horlosieversameling wat nog moet bykom. Ander museumstukke van historiese belang sluit in die treinstasie op Louis Trichardt se eerste stasielig, asook die eerste stasielig by Bandelierkop treinstasie. Dan is daar ook oorlogsmemorabilia, onder andere medaljes van sy voorsate uit die Tweede Wêreldoorlog. Van die ander eiesoortige items sluit in die verkoeler (radiator) van Johannesburg se eerste brandweerwa. “Dit was vir ‘n Austin enjin wat deur muile getrek is,” sê oom Freek. In dieselfde asem wys hy na die Tiger Moth opwekker (generator) wat reg langsaan staan. Hy gesels so lekker dat daar totaal vergeet word om te vra van die opwekker se herkoms. Tog het dit in die versameling beland.

Om oudhede te versamel is in oom Freek se bloed. Hy is trots op sy Boere herkoms as kenner van die plaaslike geskiedenis. “Ek het as laerskoolklong begin versamel. Alles wat ek in die hande kon kry, het ek versamel, maar ek sal nie sê ek is ‘n hoarder nie, ek kies en keur. Daar is goed wat tot niet gaan wat jy nie weer kry nie. Dan hou ek een,” sê oom Freek. Hy voeg egter by dat die uitstalling tans bietjie “deurmekaar” is. Dit blameer hy op die feit dat as iemand uitvind hy versamel oudhede, hulle sommer iets by hom sal aflaai. “So sal ‘n ou by jou kom en jou ‘n ou oliekannetjie gee. Dit pas nie by die museum nie, maar jy wil dit nie weggooi nie. Dan hou ek dit, want ek weet jy gaan nie weer een kry nie,” sê oom Freek.

Dit is hierdie “hou-alles-van-waarde” uitkyk wat onder meer daartoe gelei dat oom Freek se museum spog met 68 ou telefone, waarvan 90% uit die spoorweggeskiedenis afkomstig is. Daar is ook ‘n volledige versameling van ystersmidgereedskap. “Hierdie het nog ou ossewa wabande gemaak. Dit was my oupa se gereedskap,” sê Freek.

Vir oom Freek is dit moeilik om te sê hoeveel jaar se geskiedenis is in sy museum vasgevang. “As ek moet skat, is hier ‘n 100 jaar, plus ‘n leeftyd, se geskiedenis in die museum,” sê oom Freek, “en ons is nog steeds besig om te versamel.”

Hierdie “100 jaar plus ‘n leeftyd” se museumstukke is oop vir die publiek om te besoek. “Veral skole het die ou spoorwegmuseum gereeld besoek,” sê oom Freek. Die museum is geleë op die plaas van Dewald en Linda Myburgh net buite Louis Trichardt. Om die museum te besoek kan oom Freek geskakel word by tel. 083 955 1236 of Linda by tel. 079 630 9039.

 

News - Date: 13 May 2018

Recent Articles

Search for a story:

 

Oom Freek Kotzee in sy unieke museum in Louis Trichardt. “As ek moet skat, is hier ‘n 100 jaar, plus ‘n leeftyd, se geskiedenis in die museum,” sê oom Freek.

Oom Freek Kotzee verduidelik die inhoud van een van die vertoonkaste in sy museum aan Anton van Zyl (links).

Ook deel van die museum is ‘n versameling ou buisradio’s en grammofone. Hier is oom Freek besig om een van die radio’s aan die Zoutpansberger se Anton van Zyl, self ‘n liefhebber van geskiedenis, te wys.

Oom Freek se “hou-alles-van-waarde” uitkyk het onder meer daartoe gelei dat sy museum spog met 68 ou telefone, waarvan 90% uit die spoorweggeskiedenis afkomstig is.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: