ADVERTISEMENT:

 

Minister gaan betaal ná weermag op boer skiet

 

News  Date: 28 May 2018

 

Die Minister van Polisie sal eersdaags weet hoeveel hy dié keer sal moet opdok in nog ‘n skadevergoedingsaak wat suksesvol teen die Staat in die Hooggeregshof gevoer is.

Baie lesers sal onthou van die 60-jarige mnr. Peter Nicholson, ‘n prominente boer van die Tshipise-omgewing, se nagmerrie-ondervinding toe daar die aand van 20 April 2015 op hom geskiet is deur lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag.

Die insident het omstreeks 20:00 op die R525-pad tussen Tshipise en Bokmakierie plaasgevind. Nicholson het op die pad uitgery om te kyk of hy ‘n verdagte voertuig kon sien, nadat hy iemand op sy plaas gehoor skiet het.

Skielik was daar ‘n verblindende lig in die pad en oomblikke later het hy oor ‘n ketting met spykers daarom gedraai (spikes) gejaag. Dit het onmiddellik al vier sy voertuig se bande stukkend gesteek. Terselfdertyd het Nicholson die klank gehoor van ‘n semi-outomatiese vuurwapen vanaf die kant van die pad en onmiddellik gedink iemand probeer hom kaap.

Uit vrees vir sy lewe het Nicholson aangehou ry tot by ‘n buurman se huis, vanwaar hy die polisie kon ontbied. Met die polisie se aankoms is daar bevind dat die persone wat op Nicholson geskiet het, lede was van die Soutpansberg Militêre Gebied (SMG) se weermagpolisie. Hulle het blykbaar ‘n padblokkade gehou en op Nicholson geskiet weens “mistaken identity”.

Nicholson het ná die voorval ‘n eis vir skadevergoeding teen die Minister van Polisie ingedien. Intussen het die owerhede aangedui dat daar ‘n gesamentlike ondersoek sal wees tussen die weermag en polisie om te bepaal hoe dit gekom het dat hulle sommer net op Nicholson begin skiet het.

In Nicholson se eisbesonderhede stel sy prokureur, mnr. Hennie Erwee van Musina, dit duidelik  dat die weermaglede geen reg gehad het om Nicholson so gewelddadig aan te val nie en dat hulle geen ontsag getoon het vir Nicholson se veiligheid en die beskerming van sy eiendom nie. Dit word ook duidelik gestel dat die weermaglede se padblokkade nie gemagtig was in terme van wetgewing nie.

Volgens Erwee het die voorval Nicholson geweldig getraumatiseer vanweë ‘n ernstige geestelike en emosionele skok, waarvoor hy behandeling moes kry. Dit is buiten die skade aan sy voertuig.

Nicholson se eis is op 23 April vanjaar deur waarnemende Regter Wanless in die Hooggeregshof in Pretoria aangehoor, met uitspraak wat op 4 Mei gelewer is. In sy uitspraak het Regter Wanless die kwessie van meriete en quantum (hoeveelheid) in die saak geskei, en slegs uitspraak gelewer ten opsigte van meriete. Hy het die Minister van Polisie 100% aanspreeklik gehou op meriete en gesê dat hy in ‘n latere stadium uitspraak sal lewer ten opsigte van hoeveelheid. Nicholson se totale skadevergoedingseis beloop net meer as R6 miljoen.

Nicholson het ná afloop van die uitspraak gesê hy dink hulle [sy regspan] het hul punt bewys. “Dit gaan oor die persepsie van mag van mense wat vir die Staat werk. Hulle gebruik hulle totale vermoë teen mense vir wie hulle werk. Die hof het gesê dit is verkeerd,” het Nicholson Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê.

Nicholson se argument is eenvoudig. “As die weermag jou kan aanval op ‘n nasionale pad en ons staan nie daarteen op nie, wat is volgende? Dit is vir ons om hulle verantwoordelik te hou. Drie jaar later is daar nog geen kriminele klagte teen die weermaglede gelê nie. Ek gaan aanhou druk toepas hieroor,” het Nicholson gesê.

In dié verband het Nicholson gesê die Staat het daarin misluk om hom as individu te beskerm. “Die Staat neem die individu se reg weg om homself te verdedig en moet dit dan namens hom doen. Die Staat moet reg laat geskied. Die vraag is egter waarom dit [die kriminele vervolging van die weermaglede] nie gedoen word nie? Alle bewyse is daar om ‘n siviele saak te kon wen,” het Nicholson gesê.

Wat laasgenoemde betref het Nicholson gesê daar is ‘n wanbalans in die Suid-Afrikaanse regstelsel. Hy het verwys na die opspraakwekkende “Doodskis-saak” verlede jaar waar die 29-jarige Martin Jackson en die 28-jarige Willem Oosthuyzen onderskeidelik 14 en 11 jaar gevangenisstraf opgelê is, omdat hulle die reg in eie hande geneem het. Hulle is daarvan aangekla dat hulle Victor Mlotshwa aangerand het en in ‘n doodskis gedwing het omdat hy na bewering koperkabel sou gesteel het. “Ek het nie die gereg in eie hande geneem nie, maar die Staat beskerm my nie,” het Nicholson gesê. Hy wou weet wat die Staat gaan doen teen die weermaglede wat ook uitermatige geweld teen hom gebruik het. “Hulle het my sommer skuldig bevind en tot die dood veroordeel. Wat doen die Staat teen hulle?” wou Nicholson weet.

Nicholson het gesê sy stryd is nog lank nie klaar gestry nie. “As dit my arbeiders was, kon hulle nie golwe maak nie. ‘n Arm persoon kan nie golwe maak nie. Ek is in die bevoorregte posisie om golwe te maak. As daar nie vervolging gaan wees vanaf die Vervolgingsgesag nie, dan gaan ek die besluitnemer by die Vervolgingsgesag, die besluitnemer by die weermag en die mense betrokke, wat in die publiek gelieg het, privaat laat vervolg,” het Nicholson gesê.

Nicholson het afgesluit deur te sê dat dit vir hom glad nie oor die geld gaan nie. “Ek het nie die geld nodig om te oorleef nie. Dit gaan vir my absoluut oor die beginsel,” het Nicholson gesê. Onrusbarend is egter Nicholson se woorde dat sedert hy die skadevergoedingsaak teen die Minister van Polisie aanhangig gemaak het, swaargewapende weermaglede al verskeie klopjagte op sy plaas kom uitvoer het “op soek na onwettige immigrante. Hulle het nie een keer enige iemand gekry nie. Die enigste plaas wat ge-raid is, was myne. Dit wys net weer, as jy jou stem dik maak, gaan jy die wind van voor kry,” het Nicholson gesê.

 

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines