

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 October 2006
Die personeel van Desai Cash & Carry in die industriële gebied van Makhado (Louis Trichardt) was Dinsdag, 17 Oktober, die jongste slagoffers van ‘n gewelddadige gewapende roof. Die bestuurder van die besigheid is tydens die roof in die maag gewond.
Die drama het vroeg die oggend ontvou, nadat ses swaargewapende mans by die agterkant van die sakeperseel ingestorm het.
Volgens insp. Thivhulawi Tshilate, Vhembe-distrik polisiewoordvoerder, was die aanvallers ondermeer gewapen met drie R5-aanvalsgewere en drie pistole.
Die ses rowers het eers ‘n sekuriteitsbeampte oorrompel en hom geforseer om saam met hulle die winkel binne te gaan. Binne die winkel het hulle almal beveel om op die vloer te lê. Daarna het die rowers na die kassiere beweeg en hulle versoek om alle geld aan eersgenoemde te oorhandig.
Insp. Tshilate sê dat die mans na bewering hierna na die bestuurder se kantoor gestap het en hom beveel het om ook alle geld in sy kantoor aan hulle te oorhandig. Daar het egter blykbaar ‘n argument ontstaan, waarna een van die rowers die 35-jarige mnr. Detak Patel in die maag geskiet het.
Die rowers het hierna by die perseel uitgehardloop en in ‘n voertuig, ‘n wit bakkie, weggejaag. Insp. Tshilate sê dat die rowers sowat R264 000 in die roof gebuit het.
Mnr. Patel is in die plaaslike hospitaal op Makhado (Louis Trichardt) opgeneem. Teen druktyd is sy toestand steeds as ernstig bestempel. Daar is ook nog geen arrestasies gemaak nie en die polisie het lede van die publiek versoek om na vore te kom inligting wat kan help met die vastrek van die rowers.

ADVERTISEMENT:
