ADVERTISEMENT:

 

Koben Hofmeyr (15) het verlede week 'n spesiale besoek ontvang van die Springbokke se senter Jessie Kriel. Foto verskaf.

Fonds op die been gebring om Koben te help

 

News  Date: 28 May 2018

 

‘n Noodfonds is gestig om te help betaal aan uitgawes wat nie deur die 15-jarige Koben Hofmeyr se mediesefonds gedek word nie.

Koben is steeds in die intensiewe sorgeenheid van die Groenkloof Hospitaal in Pretoria en volgens pa Trompie gaan dit onder omstandighede goed met sy seun.

Koben het ‘n tweede operasie ondergaan om van die skade aan sy nekwerwels te herstel wat beseer is tydens ‘n rugbywedstryd voorverlede Saterdag. Koben se C6-werwel is gebreek en het verskuif en medici moes dit met ‘n operasie weer in plek terug skuif. Daarbenewens is Koben se C3 en -4-werwels ook aanmekaar geheg.

“Daar is soveel dinge om voor dankbaar te wees,” het Trompie Maandag aan die Zoutpansberger gesê. Hy was terug in die dorp om om te sien na Koben se ouer sussie en jonger boetie wat terug skool toe moes gaan.

Volgens Trompie is die gesin dankbaar vir die feit dat Koben self kan asemhaal en dat hy goeie tekens toon van onwillekeurige sensoriese gevoel in sy liggaam wat al plek-plek terug gekom het. Die skade aan Koben se C6-werwel het egter tot gevolg dat hy slegs 60% longfunksie het, en verlam is in sy polse en hande, asook in sy onderlyf.

In hierdie stadium kon Koben se dokters vasstel dat sy sensoriese neurone, wat van sy brein deur sy rugwerwels loop, redelik onbeskadig was na die ongeluk. Dit is die neurone wat verantwoordelik is om die seine van die buitenste dele van jou liggaam (periferie) na die sentrale senuweestel te neem. Daar is vyf verskillende sensoriese gevoelens, waarvan twee al tekens van herstel toon in Koben.

Wat die skade aan Koben se motoriese neurone is, die bewegingsboodskappe van die brein stuur, is egter nog moeilik om vas te stel. Dit kan eers vasgestel word nadat daar ‘n MRI-skandering gedoen is van sy nek. Weens Koben se bloeddruk wat nog nie stabiel is nie kan dit tans lewensgevaarlik wees om nou so ‘n skandering te doen.

Volgens Trompie ontvang Koben tans intensiewe behandeling om sy bloeddruk gestabiliseer te kry alvorens ‘n MRI-skandering oorweeg sal word. “Dit is nou net die Liewe Vader en tyd wat sal leer watse permanente skade Koben opgedoen het,” het Trompie gesê.

Die hulpfonds is deur Hoërskool Louis Trichardt, waar Koben ‘n skolier is, op die been gebring en word deur ‘n plaaslike prokureursfirma geadministreer. Een van die rugbyafrigters by die skool, mnr. Quintin Thompson, het Maandag gesê die Koben Hofmeyr Fonds sal in die toekoms ook gebruik word om ander leerlinge van die skool by te staan sou daar nood wees.

Quintin het Maandag gesê daar is al hulp van Amerika en Engeland aangebied. “Dit is ongelooflik hoeveel die mense saam staan om Koben te help,” het Quintin gesê.

Die skool se rugbyspanne sal hierdie komende Saterdag self ‘n bydrae maak deur hierdie komende Saterdag fondse in te samel tydens hul wedstryd teen Hoërskool Eric Louw.

Mense wat graag ‘n bydrae wil maak kan ‘n betaling, met die verwysing Koben Hofmeyr Fonds, maak aan Kern & Dekker Prokureurs by Standard Bank, rekeningnommer 030429854 en takkode 051001. Vir verdere inligting kan Quintin geskakel word by tel. 082 458 2107.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines