ADVERTISEMENT:

 

Wyle mnr. Fana de Jager. Foto: Wilma de Jager

Adjunk-hoof sterf aan skietwond

 

News  Date: 20 October 2006

 

Die onverwagse afsterwe van mnr. Fanna de Jager (49), adjunkhoof van Hoërskool Eric Louw, het die gemeenskap van Musina met stomheid geslaan.

Mnr. De Jager is Maandag (16de) net na vyfuur die oggend dood langs sy swembad aangetref, nadat hy vermoedelik sy eie lewe geneem het deur homself te skiet.

Die bure, dr. Michiel Roos en sy vrou, Louise, het na ‘n geweerskoot in die agterplaas van die De Jagers, vanuit hulle kamervenster die liggaam van mnr. De Jager langs die swembad gewaar. Hulle het onmiddellik ‘n dokter ontbied met die hoop dat hy nog sou leef. Hy is egter opslag dood.

Mnr. De Jager was sedert 1 Julie 2006 die departementele adjunkhoof van Eric Louw en hy het in die kort tydjie reeds in die harte van baie skoliere en personeel gekruip. Die blymoedige, kalm en rustige wyse waarop hy leerders se probleme of krisisse hanteer het, sal nog lank in die geheue ingeprent bly. Sy bekwame bestuursvernuf en toewyding in die belang van Eric Louw gaan ‘n groot leemte laat.

Ook by Musina High het hy as adjunkhoof diep spore getrap in die meer as 16 jaar wat hy aan hierdie skool verbonde was. Selfs na sy aanstelling as adjunkhoof van Eric Louw was hy vir die hele derde kwartaal steeds nou betrokke by die aflegging van die rekenaarstudie eksamens by Musina High en Mopani Intermediêr se senior leerlinge.

As eksaminator van die ICDL-eksamens en die installering en instandhouding van rekenaarprogramme vir besighede, boere en voornemende rekenaartegnici het hy ‘n groot diens gelewer aan die gemeenskap om mense se aanleg met die rekenaar op te skerp. In ‘n stadium het hy Afrikatale aan nie-moedertaalsprekers vanaf sy huis onderrig.

Mnr. De Jager was inderdaad iemand wat sy plek in die gemeenskap volgestaan het, iemand op wie ‘n mens kon peil trek. Hy laat sy vrou, Marietjie, en hul drie kinders, Gert, Marnus en Wilma agter.

 

Written by

Colleen van Staden

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines