ADVERTISEMENT:

 

Dié kraan is agter die nuwe gebou geleë wat op die hoek van die N1 en die Thohoyandou pad is. Die kraan word deur verskeie mense gebruik en die morsige bewyse kan duidelik op die grond gesien word.

Mors die inwoners werklik ons kosbare water?

 

News  Date: 20 October 2006

 

Met dreigemente van swaar boetes word die oorsaak vir die dorp se huidige waterkrisis oorgeskuif na inwoners wat klaarblyklik water "mors". Maar is dit werklik die geval?

Sedert die Makhado Munisipaliteit hul waarskuwing uitgevaardig het dat inwoners met R2 000 beboet sal word indien hulle betrap word dat hulle water gebruik vir enige ander doel as noodsaaklike huishoudelike gebruik, is die kantore van die Zoutpansberger oorval met klagtes dat die Raad net soveel en indien nie meer skuldig is aan watervermorsing nie.

"Gaan hulle vir hulself ook beboet?" het een belastingbetaler opgemerk.

Die klagte het grootliks te doen met die Raad se infrastruktuur, insluitend watervoorsieningspype en munisipale krane wat dag en nag lek en selfs ‘n klagte dat die reservoir agter Skuldbult lek.

"Is die haglike toestand van die Raad se infrastruktuur nie die oorsaak van die waterkrisis nie?" wou een inwoner reguit weet.

Dan is daar nog die kwessie van "wie moet beboet word" en ‘n vraag waarom die Raad nie teen sekere mense optree soos die taxi-eienaars wat by die taxistaanplek in Eltivillas hul voertuie met munisipale water was nie. ‘n Paar meter verder bedryf ‘n vrou ‘n groentetuin vanaf munisipale grond met munisipale water – wat klaarblyklik in oorvloed is.

Die Zoutpansberger het op Dinsdag, 17 Oktober, die Raad se Direkteur Tegniese Dienste, mnr. Masindi Mapholi, geskakel vir ‘n paar antwoorde op dié vrae.

Volgens mnr Mapholi spruit die waterkrisis nie voort uit probleme met die stelsel nie, maar is die gevolg van die vinnige groei wat die dorp toon. Die goeie nuus is dat hy aangedui het dat probleme met die dorp se huidige infrastruktuur definitief aandag gaan geniet in die Raad se begroting vir die komende finansiële jaar. Dit kan dalk die vervanging van die bestaande stelsel met ‘n meer moderne en betroubare stelsel tot gevolg hê.

Mapholi sê dat indien lekplekke opgespoor word, die Raad dit so gou moontlik probeer herstel. Wat die kwessie van watergebruik by die taxistaanplek in Eltivillas betref, sê Mapholi daar sal gekyk moet word na ‘n sisteem om die watergebruikers sover te kry om te begin betaal. Wat die kwessie betref van die vrou wat op die Raad se rekening tuinmaak, natmaak en geldmaak vanaf ‘n munisipale perseel, het Mapholi gesê hy kan nie iets doen nie, want die aangeleentheid val nie onder sy departement nie.

Mapholi het afgesluit deur inwoners weer te vra om lekplekke so spoedig moontlik aan te meld.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines