ADVERTISEMENT:

 

DA-raadslid Brian du Plooy het amptelik ‘n saak aanhangig gemaak by die Makhado SAPD teen die vorige waarnemende munisipale bestuurder en voormalige hoof finansiële beampte van die Makhado Munisipaliteit vir hul aandeel in die beleggingsfiasko by die nou beleërde VBS onderlinge bank.

VBS-fiasko kring uit

 

Die Demokratiese Alliansie in Louis Trichardt het besluit om kriminele klagte aanhangig te maak teen amptenare van die Makhado Munisipaliteit wat klaarblyklik toegesien het dat sowat R62 miljoen van die belastingbetalers se geld onwettig belê is by die nou beleërde VBS Mutual Bank.

VBS, ‘n onderlinge bank, het in Maart die nuushooftrekke gehaal, nadat die Reserwebank aangekondig het dat hulle die instelling onder kuratorskap geplaas het. Die besluit is geneem om beleggers te beskerm toe dit aan die lig gekom het dat VBS ernstige kontantvloeiprobleme ondervind.

VBS se probleme het vererger toe hulle sowat drie jaar gelede begin het om groot bedrae geld in korttermyn deposito’s van munisipaliteite te aanvaar. Hulle het toe dié korttermyn deposito’s op langtermyn begin uitleen. In Augustus 2017 het die Nasionale Tesourie egter ‘n skrywe uitgestuur waarin hulle alle munisipaliteite gewaarsku het om geen deposito’s te maak by ‘n onderlinge bank soos VBS nie, omdat hulle nie ingevolge die Bankwet as ‘n kommersiële bank geregistreer is nie.

Ten spyte van die waarskuwing deur Nasionale Tesourie, het talle munisipaliteite steeds aangehou om amper R1 miljard by VBS te deponeer. Bewerings word tans ondersoek dat prokureurs en selfs politieke figure as agente opgetree het vir die bank en die persone kommissie verdien het op die beleggingstransaksies. Buitensporige hoë rente-opbrengste is ook in sekere gevalle belowe.

In totaal het die Makhado Munisipaliteit R61 712 340 by VBS belê. (Op plaaslike front was die Vhembe Distriksmunisipaliteit, as waterverskaffer aan Louis Trichardt en omstreke, egter by verre die grootste sondebok met ‘n totale belegging van bykans R312 miljoen, sowat 35% van hulle jaarlikse bedryfsbegroting).

Tog was daar munisipaliteite wat gehoor gegee het aan Nasionale Tesourie se waarskuwing en het hulle begin om hul beleggings by VBS te onttrek. Dit het skielik ‘n kontantvloei probleem by die bank veroorsaak wat die Reserwebank genoop het om VBS onder kuratorskap te plaas. Van die eerste stappe wat die kurator geneem het was om ‘n limiet te plaas op die daaglikse onttrekkings van individuele rekeninghouers, terwyl ‘n totale verbod geplaas is op onttrekkings van munisipaliteite. In effek het dit beteken dat die Makhado Munisipaliteit feitlik oornag toegang verloor het tot sowat R62 miljoen in belasting geld, omdat hulle nie gehoor gegee het aan Nasionale Tesourie se waarskuwing nie.

Plaaslike DA-raadslid Brian du Plooy het verlede Woensdag klagte aanhangig gemaak teen die vorige waarnemende munisipale bestuurder, mnr. M. J. Kanwendo en die munisipaliteit se voormalige hoof finansiële beampte, me. M. P. Makhubela.

In sy beëdigde verklaring aan die Makhado SAPD vra Du Plooy dat die polisie moontlike kriminele klagte moet ondersoek teen Kanwendo en Makhubela vir hul aandeel in die besluit dat die Makhado Munisipaliteit by VBS moet belê. Dit, voer Du Plooy aan, kan neerkom op ‘n oortreding van die Munisipale Finansiële Bestuurswet, Wet 56 van 2003.

Vanweë die belegging by VBS, het Du Plooy in sy verklaring gesê, staan die munisipaliteit die kans om amper 7.9% van sy jaarlikse bedryfsbegroting te verloor, aangesien dit onseker is of munisipaliteite wel enige van hulle geld gaan terugkry. Wat laasgenoemde betref het Du Plooy genoem dat die bank sowat 13 000 individuele rekeninghouers het en dat daar met die reddingsplan van VBS eers na hulle gekyk gaan word. Volgens berigte staan munisipaliteite die kans om slegs tussen 10% en 40% van hulle aanvanklike beleggings terug te kry.

Die Makhado SAPD het by navraag bevestig dat hulle wel ‘n saak aanvaar het van Du Plooy. Polisiewoordvoerder konst. Irene Radzilane kon egter nie kommentaar lewer oor die aard van die klagte nie, aangesien die saak oorhandig is aan die Valke se Handelsmisdaadeenheid. Verdere navrae oor die saak is verwys na die Valke se woordvoerder, kapt. Matimba Maluleke, maar teen druktyd is daar nog op sy kommentaar gewag.

Intussen het mnr. André Weideman, hoof aanklaer in die Thohoyandou-gebied, bevestig dat die polisie hom verlede week genader het oor die saak en dat hy die polisie opdrag gegee het om wel ‘n saak te open. “Definitief sal die saak aandag moet geniet,” het Weideman gesê. Soortgelyke klagte is ook deur DA-raadslede in Gauteng gelê en daar is ook ‘n amptelike ondersoek deur die Reserwebank geloods aangaande VBS se bedrywighede.

Dit is duidelik dat dit nie ‘n maklike saak gaan wees om te ondersoek nie, aangesien daar ‘n geweldige oorvleueling van wette ter sprake is, vanaf die Bankwet tot by die Munisipale Finansiële Bestuurswet. Soos reeds bevestig het die Makhado SAPD reeds die saak aan die Valke oorhandig. “Na alle waarskynlikheid sal die Valke weer die saak na die Nasionale Vervolgingsgesag se gespesialiseerde handelsmisdaadeenheid verwys … Hierdie is ‘n nuwe ding en die saak is nog is sy babaskoene,” het Weideman gesê.

Die feit dat die Makhado Munisipaliteit skielik nie meer toegang het tot amper R62 miljoen van hul bedryfsbegroting nie, het veral twee vrae laat ontstaan. Die eerste is waar die munisipaliteit in die eerste plek soveel geld gekry het om te belê en of hulle regeringstoelaes hiervoor gebruik het? Die tweede vraag is of die skielik tekort aan geld vir hulle tans kontantvloeiprobleme veroorsaak?

Munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi is in April vanjaar hierdie vrae gevra. Hy het in Mei gesê dat die munisipaliteit tans geen kontantvloeiprobleme ondervind vanweë die VBS-fiasko nie. Hy het dit ook duidelik gestel dat hulle nie die geld van regeringstoelaes gebruik het om die beleggings mee te maak nie. “Die was eie fondse,” het Bobodi gesê.

News - Date: 11 June 2018

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: