ADVERTISEMENT:

 

Inwoners van Laat Lente en Herfsakker staar ‘n duister toekoms in die gesig met gerugte dat die munisipaliteit die woonstelle wil verkoop.

Duister toekoms vir inwoners van munisipale behuising

 

Is die Makhado Munisipaliteit van voorneme om Laat Lente en Herfsakker in Louis Trichardt te verkoop, en moet inwoners van hierdie munisipale behuisingskompleks vir “afgetredenes” begin uitkyk vir alternatiewe  woonplek?

Volgens die 68-jarige mev. Hettie du Plessis is dit presies wat hulle meegedeel is. Sy en haar 78-jarige man, Martin, loseer tans op ‘n plaas net buite Louis Trichardt. Hulle het egter einde verlede jaar besluit om weens beide veiligheids- en gesondheidsredes eerder aansoek te doen vir een van die woonstelle by die kompleks.

“Hulle het ons in Desember [2017] geskakel en gesê daar is ‘n woonstel beskikbaar. Ons het aansoek gedoen en is deur die Stadsraad meegedeel dat ons maar kan kom teken vir die woonstel. Ons het gaan teken, maar daarna niks weer van die Stadsraad gehoor nie,” het Du Plessis aan die Zoutpansberger gesê.

Volgens Du Plessis het die Stadsraad haar en haar man vir maande aan ‘n lyntjie gehou. “Ek het vir my man gesê daar is fout toe ons nie weer van hulle gehoor het nadat ons gaan teken het nie. In April het ons weer navraag gaan doen. Dit is toe dat die amptenaar by wie ons gaan teken het vir ons gesê het hy is nou jammer om dit vir ons te sê, maar die munisipaliteit het besluit om eerder die woonstelle te verkoop,” het Du Plessis gesê.

Intussen het nog soortgelyke gerugte van die munisipaliteit se voorneme om die kompleks te verkoop die koerant bereik. Dit het die Zoutpansberger genoop om die Makhado Munisipaliteit te vra of daar enige waarheid is in die gerugte dat hulle in die proses is om van Laat Lente en Herfsakker ontslae te raak.

Laat Lente en Herfsakker bestaan saam uit  40 munisipale woonsteleenhede (20 elk) wat tans huisvesting bied aan sowat 50 pensioenarisse wat geen ander heenkome het nie. Die woonstelletjies is vir baie ‘n aantreklike opsie, veral vanweë hul bekostigbaarheid. Die maandelikse huur vir die eenhede beloop gemiddeld sowat R350 per maand. Al voorwaardes om in aanmerking te kom vir ‘n woonstel, is dat die aansoeker ouer as 60 jaar moet wees, ‘n SASSA-staatspensioen moet ontvang as enigste inkomste en geen ander werk mag hê of doen nie.  

Die munisipaliteit is pertinent gevra of hulle opgehou het om aansoeke te aanvaar vir woonstelle by die kompleks en, indien wel, wanneer en waarom die besluit geneem is. Die koerant wou ook weet of die munisipaliteit in enige stadium ‘n aanbod ontvang het vir die verkoop van die woonstelle.

Die munisipaliteit se antwoorde op hierdie vrae was by die beste van tye vaag en ontwykend. Hulle het weggespring deur te sê dat hulle steeds die eienaars van die woonstelle en perseel is, en dat hulle in geen stadium opgehou het om aansoeke vir woonstelle te aanvaar nie. “Ons het nie gestop nie. Alle aansoeke gaan nou deur die munisipaliteit hanteer word en nie meer deur onbekende individue nie,” het munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi geantwoord.

Oor gerugte dat die munisipaliteit van voorneme is om die woonstelle te verkoop, het Bobodi bloot gesê dit was ‘n voorstel aan die Stadsraad. Van wie af die voorstel gekom het, het Bobodi nie gesê nie. Hy wou hom ook nie veel uitlaat oor die proses vorentoe nie, veral wat betref verblyfsekuriteit vir die huidige inwoners. “Dit is steeds nog net ‘n voorstel,” het Bobodi gesê.

Maar dit het egter gou uitgekom dat daar definitief meer in die saak steek en dat die munisipaliteit hulle besig hou met halwe waarhede. Die koerant het met mev. Rina Vermeulen gepraat oor die gerugte. Vermeulen is al vir etlike dekades op vrywillige basis betrokke by fondsinsameling en die algemene administrasie van die kompleks.

“Hulle [die Stadsraad] praat twak! Dit is waar dat hulle nie gestop het om aansoeke te aanvaar nie, maar hulle doen ook niks verder as ‘n aansoek nou ontvang word nie. Daar staan alreeds sedert Desember drie woonstelle leeg, met ‘n vierde een wat binnekort ook gaan leeg staan. Hulle word doodeenvoudig net nie weer gevul nie,” het Vermeulen gesê. Sy het verwys na die Du Plessis-geval waar die Stadsraad hulle gevra het om te kom teken vir hul woonstel, maar hulle toe nooit die woonstel gekry het nie. By navraag hieroor, het Vermeulen gesê, het die amptenaar wat die kontrakte hanteer haar meegedeel dat die feit dat hulle iets geteken het nie beteken dat hulle ‘n kontrak met die munisipaliteit het nie.

Vermeulen het gesê sy weet vir ‘n feit dat die munisipaliteit oorweeg om die woonstelle aan individue te probeer verkoop. Sy het bygevoeg dat dié voorstel aan die Stadsraad gemaak is deur een van hulle eie amptenare. “Ek weet waarna hulle verwys as hulle sê die munisipaliteit gaan die plasings doen en nie onbekende individue nie. Hulle praat van ons. Ons het nog nooit self plasings gedoen nie. Al wat ons gedoen het, was om die Stadsraad in te lig oor wie werklik behuising nodig het en wie nie daarvoor kwalifiseer nie,” het Vermeulen gesê.

Vermeulen se bevestiging dat daar definitief iets aan die broei is by die munisipaliteit rondom die verkoop van die woonstelle het ook duidelik geword uit Bobodi se reaksie op ‘n vraag in watter stadium hulle inwoners in kennis gaan stel van hul voorneme om die eenhede te verkoop, sou daar waarheid in die gerugte wees. Hierop het Bobodi bloot geantwoord: “Wanneer die Raad dit goedkeur.”

Intussen rus die huidige onsekerheid oor ‘n heenkome swaar op inwoners van die kompleks se skouers. “Dit is ‘n noodlyn vir soveel mense wat net nie ‘n ander heenkome het of kan bekostig  nie,” het Vermeulen gesê.

 

News - Date: 18 June 2018

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: