ADVERTISEMENT:

 

Kwalifiseer hierdie man as een van die streek se domste kriminele ooit? Dit is ‘n skermgreep van die sekuriteitsvideo van die man wat Maandagoggend by die Soutpansberg Muurbalklub ingebreek het. 

Die dorp se domste dief?

 

Die man wat Maandagoggend by die Soutpansberg Muurbalklub ingebreek het, kan sekerlik beskou word as een van die domste kriminele wat die streek nog opgelewer het. Hopelik sal dit ‘n kwessie wees van “slim vang sy baas”, want die polisie het pragtige volkleur beeldmateriaal van die man se manewales.

Die klub se sekuriteitskameras, wat deur beweging geaktiveer word, het presies om 03:25 begin opneem, nadat die onbeholpe inbreker ‘n reusegat in die dak van die klubhuis se kombuisie geskop het. Hy kan gesien word waar hy heel versigtig die klub se kroeg binnestap, maar dit is omtrent waar sy slimmigheid en versigtigheid eindig.

Binne sekondes kyk die man, netjies uitgevat in wat lyk soos ‘n duur ontwerpersbaadjie, reguit op na die sekuriteitskamera, maar duidelik besef hy nie waarna hy kyk nie. Nee, hy stap doodluiters na die klub se televisie wat op die kroegyskassie staan.

In daardie stadium wil dit voorkom asof hy wil kyk wat op televisie wys, want hy vroetel met die muurprop en skakel dan die televisie aan. Daar is egter geen beeld nie en die man skakel dit dan maar weer af. Wie weet, dalk wil hy net kyk of die televisie werk?

Met “niks” wat op televisie wys nie, haal die man dan maar vir hom ‘n koue blikkie Cream Soda uit die kroegyskassie, maak dit oop en stap agter die kroeg in.

Die twee slukke Cream Soda  wat hy neem, gee blykbaar vir die man ‘n geestelike hupstoot, want hy kyk weer reguit vir die sekuriteitskamera. Dit is duidelik dat hy toe ‘n helder oomblik beleef, want skielik pluk hy sy baadjie se rooi kappie oor sy kop. As hy egter daardeur probeer wegkruip vir die kamera, is dit reeds te laat.

Met sy gesig nou veilig verbloem deur sy rooi kappie, besef die man blykbaar dat hy afgeneem word en hy sak af agter die kroegtoonbank en peuter aan ‘n paar drade. Dit is duidelik dat hy die sekuriteitskamera probeer uitskakel, want hy staan skielik op en stap reguit na die sekuriteitskamera.

Die slegte nuus vir die inbreker is dat, ten spyte van sy rooi kappie, die kamera nog ‘n beter nabyskoot van sy gesig neem, kort voordat hy daarin slaag om die kamera weg te draai.

Die mans se beweging daarna is nie seker. Hy verlaat wel weer die kombuis en kroegarea, waarna hy by die stoorkamer inbreek. Hier probeer hy om met ‘n skêr die rekenaarkas oop te skroef waarop die beeldmateriaal van sy manewales gestoor is. Hiervan maak hy ook ietwat van ‘n gemors, want hy slaag slegs daarin om twee van die vyf skroewe so halfpad met die skêr oop te worstel, waarna hy moed opgee. Hy kies dan maar weer onverrigter sake die hasepad.

Vir klubvoorsitter Ronel Welman grens die hoeveelheid inbrake wat die klub die afgelope jaar beleef het aan die absurde. Welman het gesê dat daar al vyf keer by hulle ingebreek is. “Elke keer steel hulle omtrent niks nie. Behalwe die blikkie koeldrank kan ons nie sien dat die man enigsins iets anders gevat het nie. Dit is omtrent elke keer die geval – hulle steel feitlik niks maar rig duisende rande se skade aan,” het Welman gesê. In Mei het iemand die klub se drukpomp gesteel. Die klub het die drukpomp vervang, maar nog voordat hulle dit kon opkoppel, is die pomp weer gesteel. Die klub het toe maar besluit om die drukpomp tot binne-in die klubgebou te skuif. “Dit moet nou regtig ophou! As iemand weet wie die man is, sê vir hom hy moet sy rekening kom haal,” het ‘n ontstoke Welman gesê.

Die saak is by die polisie aangemeld en word tans ondersoek. Intussen kan lesers op die koerant se webblad www.zoutpansberger.co.za gaan kyk na ‘n videogreep van die inbreker se manewales.

 

News - Date: 24 June 2018

Recent Articles

Search for a story:

 

Kwalifiseer hierdie man as een van die streek se domste kriminele ooit? Dit is ‘n skermgreep van die sekuriteitsvideo van die man wat Maandagoggend by die Soutpansberg Muurbalklub ingebreek het. 

Die reuse gat wat die inbreker in die klubhuis se dak geskop het. Alhoewel hy feitlik niks gesteel het nie, het hy duisende rande se skade aangerig.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: