ADVERTISEMENT:

 

“Hoe lekker is ‘n sjokolade nie, veral as jy dit self kan vashou…” So het die 15-jarige Koben Hofmeyr se ma Annelize se Facebook-inskrywing op 12 Junie gelees. Die familie het Woensdagoggend gehoor dat Koben gesond genoeg is om met rehabilitasie te begin. Foto verskaf.

Koben uit intensief en op pad na rehabilitasie

 

Dit gaan dag na dag beter met die 15-jarige Koben Hofmeyr van Louis Trichardt wat op 19 Mei vanjaar ernstige nekbeserings opgedoen het tydens ‘n skole rugbywedstryd.

Sedert sy opname in die Groenkloof Hospitaal in Pretoria het Koben se pad na herstel die harte aangegryp van mense oor die lengte en breedte van die land en nie net dié van sy vriende en familie in die Soutpansberg nie. Dit het ingesluit besoeke van onder meer voormalige en huidige Springbok rugbyspelers Jesse Kriel en Victor Matfield en selfs ‘n besoek van Suid-Afrikaanse sanglegende Steve Hofmeyr. Almal was dit eens dat Koben se glimlag en positiwiteit, te midde van sy beserings, aansteeklik is.

Koben het tydens ‘n duikslag op die rugbyveld ‘n besering aan sy C6-nekwerwel opgedoen. Die werwel het uitgeskuif en moes met behulp van twee operasies weer teruggeplaas word. Die besering het egter tot gevolg gehad dat Koben slegs 60% longfunksie het en verlam is in sy polse en hande, asook in sy onderlyf.  

Buiten vir Koben se positiwiteit, bly ma Annelize en pa Trompie ook positief. Hulle het juis Woensdag nog goeie nuus gehad om te deel. “Die dokters het vanoggend vir ons gesê Koben kan oorgeplaas word na die Muelmed Medikliniek se rehabilitasiesentrum,” het ‘n opgewonde Annelize telefonies aan die Zoutpansberger gesê. Sy staan sedert Koben se ongeluk die heel tyd nog langs sy hospitaalbed. “Maar hy moet ‘n slag die naweek huis toe kom,” het Annelize bygevoeg.

Woensdag se goeie nuus is voorafgegaan deur die nuus dat Koben verlede Vrydag vir die eerste keer sedert sy opname vanuit die hospitaal se intensiewe eenheid oorgeplaas kon word na ‘n gewone saal. “Die dokters het hom eers ‘n paar dae in die gewone saal laat lê om seker te maak hy reageer goed met sy bloedverdunningsmedikasie, voordat hulle hom wou oorplaas na Muelmed,” het Annelize gesê.

Te midde van die opgewondenheid dat Koben met rehabilitasie kan begin, was daar Dinsdag ook bietjie hartseer gewees. “Dinsdag was hy maar baie af en emosioneel. Dit was die 19de en presies ‘n maand nadat hy seergekry het,” het Annelize gesê. Sy sê egter dat Koben en hulle positief bly.

In hierdie stadium kan Koben se linkerhand se vingers al beweeg en halfpad oopmaak. “Hy het egter nog geen greep nie en kan nie iets vashou nie. As hy iets wil vashou, moet hy dit met al twee sy hande vashou,” het Annelize gesê. Wat sy regterhand betref, het Annelize gesê dat daar al geringe beweging is in van sy vingers. “Ons glo hy gaan 100% herstel,” het Annelize gesê.

Intussen het Hoërskool Louis Trichardt, waar Koben ‘n leerling is, ‘n hulpfonds gestig om te help met die betaal van ekstra mediese koste wat nie deur die familie se mediesefonds betaal word nie. Mense wat graag ‘n bydrae wil maak, kan ‘n betaling, met die verwysing Koben Hofmeyr Fonds, maak aan Kern & Dekker Prokureurs by Standard Bank, rekeningnommer 030429854 en takkode 051001. Vir verdere inligting kan Quintin geskakel word by tel. 082 458 2107.

 

News - Date: 24 June 2018

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: