

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 October 2006
Die skielike dood van Anton Stander (41) het die plaaslike gemeenskap geruk.
Anton se voertuig het omstreeks 11:30 op Maandag (23ste) teen ‘n lamppaal in Kortstraat tot stilstand gekom, nadat hy vermoedelik ‘n hartaanval agter die stuurwiel gekry het.
Padgebruikers wat op die toneel was, het gesien hoedat die voertuig, wat vanaf die begraafplaas in Kortstraat ingedraai het, al stadiger beweeg en ‘n paar honderd meter verder van die pad af gaan en teen ‘n lamppaal bots.
Ds. Phillip Venter, wat gou op die toneel was, sê dat Anton nog asemgehaal het, hoewel hy reeds blou in die gesig was. Anton het waarskynlik in die ambulans onderweg na die hospitaal beswyk.
Anton is op 10 Mei 1965 in Louis Trichardt gebore, waar hy ook skoolgegaan en gematrikuleer het. Nadat hy sy opleiding in die SAPD ontvang het, was hy ‘n baie suksesvolle polisieman en speurder, onder meer ook in die Louis Trichardt omgewing.
Later was hy vir ongeveer drie jaar werksaam by die provinsiale verkeersafdeling. Daarna was hy verbonde aan ‘n Duitse maatskappy waar hy ‘n verkoopsverteenwoordiger vir produkte soos onderdele en boormasjiene was. In 2004 is hy deur dié maatskappy aangewys as topverkoper en hy het ‘n toer Duitsland toe gewen. Aan die begin van hierdie jaar het hy besluit om ‘n eie besigheid in dieselfde lyn te begin.
"Anton het altyd baie drome gehad," sê ‘n familievriend. Die eienskap van Anton wat altyd deur vriende en familie onthou sal word, is sy besondere behulpsaamheid. "Daar was nie ‘n meer behulpsame mens as hy nie. Hy wou net almal help en het ook almal gehelp," sê sy vriend, Jimmie Moodie, asook sy swaer, Vonk Cordier. "Hy was vriende met almal en kon Venda vlot praat. Die Vendas het dan ook altyd kom dagsê as hulle verby die plaas gery het," sê Cordier. Die Standers is woonagtig op die Rondebosch-plotte.
Anton se onverwagte afsterwe was ‘n groot skok vir sy gesin. Hy was bekend as gesinsmens en ‘n vader wat sy kinders ten volle ondersteun het. Hy kon waardevolle insette lewer met sy seun se karate en rugby, aangesien hy self ook hierdie sportsoorte ywerig beoefen het.
Anton laat sy vrou, Odette, seun Armand (13) en dogter, Ilandrè (12), agter. Hy word om 11:00 op Vrydag (27ste) deur ds. Hans Grobler begrawe vanuit die Gereformeerde Kerk in Louis Trichardt.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
