

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 October 2006
‘n Nuwe intrekker in Makhado (Louis Trichardt) het ‘n onaangename verwelkoming gehad toe misdadigers meer as R6 000 se skade aan haar motor aangerig het … en dit alles net om R400 se luidsprekers uit haar motor te steel.
Me. Leamarie Gouws het Woensdag (11de) om 04:00 ‘n harde slag buite haar woonstel in Messinaweg gehoor. Sy het vinnig deur ‘n klein opening in die gordyn geloer, maar kon niemand sien nie. Dit was eers toe dit lig word, dat sy die gebreekte glasstukke agter haar motor opmerk – iemand het haar motor se agterruit uitgeslaan en die luidsprekers gesteel.
Die polisie is ontbied. Dit het gou geblyk dat die skade aan die motor ver meer was as die verlies van die luidsprekers. Die vervanging van die agterruit, die slot waaraan gepeuter is, die luidsprekers en ‘n krap gaan R6500 kos - en dit met net twee maande oor voordat die voertuig afbetaal is.
"Ek is seker hy gaan verkwansel daardie sprekers vir R100. Hy kon maar eerder by my aangeklop het en gesê het hy het R100 nodig," sê me. Gouws.
In die aande na die inbraak by haar motor, slaap Leamarie maar lig. Sy het ‘n paar maande gelede nuut in die dorp aangekom. Na die diefstal het sy gevoel om sommer weer te trek.
"Ek het intussen al wat ‘n buurtwag is se selnommer opgespoor en op my foon gesit," sê sy.
Diefstal vanuit motors asook kwaadwillige saakbeskadiging neem toe in Makhado, as die misdaadstatistieke van die SAPD onder die loep geneem word. Daar is in die jaar 2004/5 220 diefstalle vanuit motors aangemeld teenoor die 170 in 2001/2. Net so het saakbeskadiging van 154 na 265 toegeneem in die ooreenstemmende tydperke. Daarenteen het die Limpopo provinsie se statistieke vir diefstal vanuit ‘n motor gedaal van 6839 na 4747. Kwaadwillige saakbeskadiging in die provinsie het vanaf 8244 na 7881 gedaal.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
